top of page

KOLSKOOT | 2021 |DEUR JOHAN VAN WYK

Pic 8.jpg

Bosveldgewere en -kalibers

Ek het al meermale gestaan en luister hoe jagters met mekaar oor sekere kalibers argumenteer. Dis een van daardie nimmereindigende debatte met geen einde in sig nie, en in baie gevalle is diegene wat argumenteer nie net onkundig nie, maar ook ietwat naïef as dit kom by die plek waar eksterne ballistiek en doodmaakvermoë mekaar ontmoet. Insgelyks die kwessie van ’n “bosgeweer”. Ek het al dikwels in ’n geweerwinkel na ’n bepaalde geweer staan en kyk, net om iemand te hoor sê dat dit ’n ideale bosgeweer sal maak.

 

Derhalwe het ek besluit dis dalk tyd om met ’n bietjie meer aandag te kyk na wat ’n bosgeweer en -kaliber is, of liewer, dalk nié is nie.

 

DIE GROOT VERSKIL 

Ek dink die eerste groot verskil tussen ’n “vlaktekaliber” en ’n “bosveldkaliber” lê in die aanwending van die betrokke kaliber. Op die oop vlaktes van die Vrystaat, Karoo en Kalahari is skietafstande tot so ver as 300 meter niks snaaks nie; ander faktore soos wind speel ook hier ’n rol. Om hierdie rede verkies ek gesoute vlaktejag-kalibers soos die .25-06 Remington, .270 Winchester en 7x64 Brenneke, asook die verskeie 7mm’s en .300 Magnums, gelaai met aërodinamiese koeëls teen flinke trompsnelhede. ’n Springbokram op 250 meter op die oop vlaktes met die windjie wat begin stoot, verg ’n bietjie dinkwerk. Dis helaas nie altyd so maklik onder sulke omstandighede om net die geweer op te tel en die sneller te druk nie.

 

As ons egter dieselfde vlaktegeweer, by wyse van spreke, bos toe vat, verander die prentjie ewe skielik. Kom ons gebruik die .300 Winchester Magnum as voorbeeld: ’n Goeie vlaktelading vir hierdie warm Amerikaanse nommer is ’n 180 grein-koeël teen ongeveer 3 000 vps. Hierdie kombinasie werk goed vir gemsbokke in die Kalahari, swartwildebeeste op die oop vlaktes, en selfs vir elande met goeie skootplasing. Daar is uiteraard min kans dat takke of blare tussen die koeël en die bok sal beland. Daarbene wens het die koeël op langer afstande al redelik spoed verloor, wat vleisskade beperk, en die jagter het terselfdertyd die voordeel van ’n platter trajek gehad. Op die vlaktes is die .300 dus in sy element, maar in Musina se digte mopaniebosse lyk die prentjie ietwat anders!

 

In die bos is skietafstande selde verder as sowat 150 meter en meer dikwels veel korter. Die .300 se koeëls tref dus ’n bok teen ’n heelwat hoër spoed. Die noodwendige gevolg is drasties meer vleisskade, tesame met ’n afname in koeëlprestasie. Ek is oortuig dat dit die gebruik van die verskillende .300’s op kort afstande op wild is wat baie jagters van hulle afskrik. Dit is egter geensins die kaliber se skuld nie, eerder net die aanwending daarvan.

 

Al is ’n .300 en die ander warmpatat-kalibers nie noodwendig die beste keuse vir die bos nie, is daar tog baie jagters wat hulle suksesvol in die bos aanwend. Sommige is versigtig om hul skote só te plaas dat die vleisskade min is; ander weer gebruik swaarder koeëls wat stadiger trek. Goeie skootplasing was nog altyd ’n voorvereiste vir sukses in die jagveld, ongeag waar die jag plaasvind. My ondervinding is egter dat ’n mens soms vinnig van ’n kans gebruik moet maak. Dit gaan dus op ’n stadium onafwendbaar gebeur dat ’n rooibok op ’n kort afstand ’n bladskoot uit die .300 gaan kry, met die verwagte gevolge. 

 

MEER GESKIKTE KANDIDATE 

Ek het reeds genoem dat skietafstande in die bosveld selde verder as 150 meter is, en meer dikwels heelwat korter. Dit is derhalwe onnodig om ’n kaliber met oormatige trompsnelheid in die bos te gebruik.

 

’n Vriend van my het onlangs die opmerking gemaak dat die Mauser-sportgewere wat tot en met die Tweede Wêreldoorlog in Mauser se eie kalibers vervaardig is, almal min of meer dieselfde ballistiese resep gevolg het: Almal het koeëls wat redelik swaar was vir die betrokke kalibers teen ongeveer 2 300 vps of stadiger geskiet. Dit sluit in die 7x57 (175 grein-koeël), 8x57 (220 grein-koeël), 9x57 (245 grein-koeël) en die 9,3x62 (285 grein-koeël). Bykans al hierdie kalibers het uitstekende reputasies in Afrika opgebou en is vandag nog in algemene gebruik. Daar is ’n rede hiervoor.

 

As ons na die Mauser-“resep” (by gebrek aan ’n beter beskrywing) kyk, is dit duidelik dat die standaardkoeëls waarmee destyds se fabrieksammunisie gelaai is, oor uitstekende seksionele digtheid beskik. Aangesien daar destyds nie so iets soos ’n premiumkoeël, waaraan ons vandag gewoond is, bestaan het nie, was al die Mauser-kalibers met konvensionele sagteneus-, loodkernkoeëls gelaai. Die goeie seksionele digtheid en matige trompsnelheid het mekaar aangevul om goeie koeëlprestasie en uitstekende penetrasie te verseker. Dié kombinasie is tot vandag toe ’n wenner en dit is dus veilig om aan te neem dat koeëls met goeie seksionele digtheid, tesame met matige trompsnelheid, twee van die belangrike bestanddele van die ideale boskaliber is.

 

Behalwe goeie seksionele digtheid en matige trompsnelheid, is daar myns insiens ook ’n derde bestanddeel wat in ag geneem behoort te word: goeie koeëlkonstruksie. Ek weet ek het in die vorige paragraaf geskryf dat konvensionele loodkernkoeëls in baie gevalle goed werk as die trompsnelheid matig gehou word, maar dis ook ’n feit dat ons as jagters vandag toegang het tot wonderlike premiumjagkoeëls; iets wat nie in die verlede die geval was nie.

 

Premiumkoeëls bied bepaalde voordele as dit by jag kom. Eerstens is hulle só ontwerp dat hulle goed omklink met ’n groot frontale area, wat op sy beurt ’n groter wondkanaal veroorsaak. Tweedens behou dié soort koeëls hul gewig en penetreer gewoonlik uitstekend, selfs al tref hulle groot bene ná impak. Derdens breek premiumkoeëls, danksy hul konstruksie, nie op en verander in skrapnel nie, wat dus minder vleisskade veroorsaak. Ek weet premiumkoeëls is duurder as “gewone” koeëls, maar die koeël is een van die goedkoper elemente as die somme aan die einde van die jag gemaak word. Volgens my is hulle elke sent werd.

 

Ek het ’n paar jaar gelede ’n goeie illustrasie gekry van hoe effektief die kombinasie van goeie koeëlkonstruksie, seksionele digtheid en matige trompsnelheid in die bos kan wees. Een van my geliefkoosde jagkalibers is die byna vergete .318 Westley Richards. Die .318 skiet ’n 250 greinkoeël (.330”-deursnit) met ’n uitstekende seksionele digtheid van .328 teen ’n besadigde 2 300 vps, maar dis een van die dodelikste kalibers waarmee ek al ooit gejag het. Gelaai met ’n 250 grein Woodleigh-sagteneuskoeël, is dit nogal ’n stryd om ’n omgeklinkte koeël te herwin – hulle vlieg doeltreffend dwarsdeur die meeste diere, met bitter min vleisskade.

 

Ek het een oggend in die digte bosse naby Hluhluwe ’n vlakvarkbeer wat in lang gras gestaan het, met die .318 geskiet. Ek het my egter effens misgis met die hoek waarteen die vark gestaan het, en die koeël het hom op die regterboud, skuins van agter, getref. Hy het nietemin in sy spore neergeslaan en tot my verbasing kon ons nie ’n uitgangswond iewers sien nie. Die raaisel is kort daarna opgelos toe ons die dier afgeslag het. Daardie Woodleigh-koeël het letterlik dwarsdeur die beer gepenetreer en ons het die perfek omgeklinkte koeël agter sy kop gekry! Dit het nie net op uitstekende koeëlprestasie gedui nie, maar ook op die .318 se vermoëns as kaliber. Soos ’n Australiese vriend van my op ’n keer oor dié kaliber opgemerk het: “The old .318 punches above its weight.” Inderdaad, maar dieselfde kan van ’n paar ander kalibers ook gesê word.

 

KALIBERS WAT DIE WERK SAL DOEN 

Voor almal dalk dink dat ek die .318 as die boskaliber van keuse aanbeveel, wees asseblief gerus dat daar vandag ’n wye spektrum uiters geskikte kalibers is wat almal die werk sal doen en waarvoor ammunisie vryelik beskikbaar is.

 

Aan die onderkant van die spektrum werk die matiger 6,5-kalibers soos die .260 Remington, 6,5 Creedmoor en 6,5x55 Sweedse Mauser baie goed met swaarder koeëls (140-160 grein). Terugskop is matig en aangesien die 6,5’s deesdae nogal die “flavour of the month” is, is ammunisie en komponente vryelik beskikbaar. As ons opbeweeg na die 7mm, is die 7-08 Remington ’n goeie keuse. So ook die immergroen 7x57 Mauser. Ek het baie bokke geskiet met dié kombinasie van ’n 175 greinkoeël teen 2 400 vps in die 7x57 en dit werk uitstekend. Die .270 Winchester, gelaai met swaar 160 grein-koeëls, werk ook uitstekend in die bos.

 

As ons na die groter kalibers kyk, is beide die .308 Winchester en .30-06 goeie keuses. Die .308 sukkel soms met die baie swaar (220 grein) .308”-koeëls, maar die .30-06 hanteer hulle goed. Die verskillende .300 Magnums kan ook met 220 grein-koeëls gelaai word, maar die spoed bly steeds aan die hoë kant en, soos genoem, kom hulle eintlik op die oop vlaktes tot hul reg.

 

As ons selfs groter gaan, is daar verskeie van die 8mm’s wat goeie kandidate is en so ook minder bekende nommers (ten minste in Suid-Afrika) soos die .338-06 en .35 Whelen. Die 9,3x62 Mauser is loshande een van die beste boskalibers van alle tye en selfs grootwild soos buffels en olifante het al voor die onderskatte 9,3 die knie gebuig. Die .375 H&H met 300 greinkoeëls is ook ’n goeie keuse en alhoewel die .375 te veel geweer vir sommige is, het hierdie kaliber nie verniet ’n wonderlike reputasie in die jagveld nie.

 

kaliber-gewere soos die .404 Jeffery, .416 Rigby en .470 NE in die bos. Mits die skut die terugskop kan hanteer, het ek geen probleem daarmee nie. Die groot kalibers skiet as ’n reël groot, swaar koeëls teen matige trompsnelhede en veroorsaak gewoonlik min vleisskade, gepaardgaande met wonderlike penetrasie. Volgens my is daar nie eintlik iets soos te veel geweer nie; dis eerder die skut se vermoëns en kennis van sy geweer wat die deurslag gee.

 

Daar heers ’n wanopvatting by sekere jagters dat van die groter kalibers dwarsdeur takke en bosse kan skiet en steeds by die prooi sal uitkom. Dit is nie so nie. Elke kaliber, klein of groot, kan deur ’n obstruksie tussen die jagter en die bok van koers af gedeflekteer word. Vermy dus tot elke prys obstruksies en onthou dat daar nie werklik iets soos, om die Amerikaanse term te gebruik, ’n “brush buster” is nie.

 

DIE BOSGEWEER 

Vir die vlaktejagter, wat dikwels van die bakkie af of dalk vanuit ’n voorsitposisie skiet, is faktore soos sy geweer se gewig en looplengte van belang ten einde die perfekte skoot te kan skiet. Gewere met langer lope is in staat tot hoër trompsnelhede en is dus ’n aanwins op die vlaktes. In die bos is dieselfde dinge ook belangrik, maar om ander redes.

 

Die meeste bosjagters, die uwe inkluis, is by voorkeur stapjagters en om koes-koes met ’n swaar geweer met ’n groot teleskoop en lang loop in digte bosse te loop en jag, is beslis nie my idee van pret nie. Ek is dus ’n voorstander van gewere met lope nie langer as 24” nie wanneer bos toe gegaan word. Inteendeel, lope kan selfs korter wees sonder enige verlies aan effektiwiteit op die afstande waarop geskiet word. Korter gewere is gewoonlik ligter en lekker handig en hang ook laer oor die skouer – iets wat goed te pas kom as ’n mens heeldag moet loop en buk om onder takke en bosse deur te beweeg. Wat gewig betref, verkies ek gewere aan die ligter kant om dieselfde redes: Hulle is gemaklik om te dra en hanteer gewoonlik baie lekker.

 

GESKIKTE TELESKOPE 

Aangesien die skietafstande in die bos gewoonlik nie baie ver is nie, is dit nie nodig om meer glas op jou gekose geweer te monteer as wat nodig is nie. My pa het vir baie jare net vaste 4x-vergroting-teleskope op omtrent al sy gewere gemonteer en hy het mooi met hulle in die bos reggekom. Ek moet bysê dat baie jagters tot ’n dekade of twee gelede maar min vertroue in teleskope met verstelbare vergrotings gehad het en dat vastevergroting-teleskope daarom meer populêr was. Vandag lyk dinge egter ietwat anders.

 

Ek jag al lank met teleskope van 3-9x- of 3-10x-vergroting op die meeste van my jaggewere. Op sy laagste verstelling is die teleskoop baie handig in die bos en kan skote selfs op baie kort afstande gemaklik geskiet word. Stel die vergroting op na 9x en ewe skielik is die skoot na die koedoebul wat onder in die leegte in die pad staan, ’n werklikheid. My advies in dié verband is om eerder ’n ietwat laer vergroting maar beter kwaliteit te kies. Teleskope is deesdae duur items, maar ’n goeie een sal baie jare se betroubare diens lewer en bykans ’n leeftyd hou as dit goed opgepas word.

 

Iets waaroor ek lank skepties was, maar deesdae nogal nuwe waardering voor gekry het, is ’n teleskoop met ’n verligte kruisdraad. Dit kom handig te pas wanneer ’n donkerkleurige dier soos ’n blouwildebees in diep skadu staan. Die verligte kruisdraad staan lekker uit teen die dier se vel en is vinnig om te gebruik.

Ek is seker dat daar in die toekoms nog baie ink sal vloei oor die onderwerpe van boskalibers en -gewere. Dis ’n interessante onderwerp waaroor daar baie uiteenlopende opinies is wat deur verskillende ondervindings aangevuur word. Op die ou end behoort ’n mens jou waarskynlik nie net tot een geweer te beperk om ’n bepaalde taak te verrig nie. Elke jagter kort per slot van rekening minstens een geweer vir die bos en een vir die vlaktes!  

Lees ook hier

bottom of page