SA JAGTER/HUNTER | Junie 2021 | Deur Jokl le Roux

Boogjag uit 'n skuiling.jpg

Boogjag vanuit ’n skuiling

In die vorige uitgawe het ek geskryf oor ’n eerste jag met die boog – hoe jy weet jy is gereed om jou eerste bok met die boog plat te trek en wat jy in gedagte moet hou wanneer jy die bok vanuit ’n skuiling inwag. In hierdie artikel brei ek meer daaroor uit. Wanneer jy in ’n skuiling vir jou prooi wag, is dit natuurlik nie nodig om kamoefleerdrag te dra nie. Kamoefleerdrag sal goed werk, maar jy kan enige donker klere dra, soos swart of donker blou.

Baie jagplase se skuilings is swart geverf aan die binnekant en die donker kleure maak jou minder sigbaar teen die swart agtergrond. ’n Donker gesigmasker en handskoene kan ook baie help. Onthou ook dat bobbejane en blouape jou baie maklik in ’n skuiling raaksien. Dra dus ekstra sorg wanneer een van dié twee diere naby die skuiling is. Hulle sal jou raaksien wanneer die bokke jou nie sien nie en kan jou kanse om een van die bokke by die water te skiet, in die wiele ry as jy nie versigtig is nie.

 

Bly ook weg van die skietopening en moet asseblief nie jou kop by die opening uitsteek om te kyk of jy diere langs die kant van die skuiling kan sien nie. Indien ’n bok jou gewaar, gaan jy jou teenwoordigheid in die skuiling weggee. Die diere gaan weet daar is ’n jagter in die skuiling en jy gaan lank wag voor daar weer ’n bok nader kom. Ek het reeds in die vorige artikel genoem dat dit ook nodig is om baie stil in die skuiling te beweeg en te sorg dat jou skoene nie geraas maak op die vloer nie. Jy kan selfs jou stewels uittrek en sagte pantoffels in die skuiling dra om seker te maak jy beweeg geruisloos, veral as die skuiling ’n harde sementvloer het.

 

VERDOESEL JOU REUK

Moenie stort of bad die oggend voor jy in die skuiling klim nie. Die vars en geurige reuk van seep kan maklik 2 km ver deur diere geruik word indien die wind van jou af in hulle rigting waai. Moet ook nie die klere dra waarmee jy die vorige aand voor die vuur gekuier het nie.

 

’n Mens kan die braaivleis nog die volgende dag in die klere ruik en diere se reuksintuig is honderd keer beter. Stort saans ná die dag se jag en gebruik reukvrye seep van No-Scent, Camp and Climb of Outdoor Warehouse. Hang more se klere op ’n hanger in die vars lug sodat dit ook meer na die veld ruik en minder na jou kas. Al is jy skoon en jy dink jy is reukvry, is dit tog ’n goeie plan om mis buitekant die skuiling te brand om enige reuk wat nog waargeneem kan word, te verdoesel. Sebra- of wildebeesmis werk baie goed vir dié doel.

 

Hang ’n veertjie of iets wat maklik deur die wind rondgewaai word, in ’n boom naby die skuiling waar jy dit kan sien, of in die opening van die skietgat in die skuiling (indien moontlik). Só sien jy die hele tyd in watter rigting die wind waai. Indien jy opmerk dat die wind van die skuiling se kant af waai, kan jy ’n stukkie sebramis in die skuiling se opening laat brand. Hoor vooraf by die eienaar of jy dit mag doen. ’n Leë koffieblikkie met gate in werk baie goed om mis in te brand en beskadig nie die skuiling nie. Sommige plase verskaf ’n “misbrander” vir dié doel. Die brander word dan voor die skuiling geplaas en aan die brand gesteek wanneer jy by die skuiling afgelaai word. As jy egter lank in die skuiling sit, gaan al die mis uitbrand voor die dag verby is. Dit is dus beter as jy die mis by jou het en jy dit self kan brand indien nodig. Gewoonlik word die heersende windrigting in aanmerking geneem wanneer die skuiling gebou word en sal die wind meesal “reg” waai.

 

Wanneer jy jou stil gedra in die skuiling sal daar waarskynlik eers duiwe inkom wat kom water drink of die saadjies in die voer vreet. Dan volg die fisante en tarentale. Kort voor lank hardloop ’n vlakvarksog en haar kleintjies in of ’n duiker loop stilletjies nader. Dan weet jy sake loop reg – jy is stil genoeg in die skuiling en die diere ruik jou nie.

 

BOKKOORS

Jy gaan waarskynlik bokkoors kry wanneer jy die eerste keer uit ’n skuiling jag (en ook baie kere daarna). Jou hart gaan begin klop en jy gaan swaar begin asemhaal. Soms voel jy heeltemal normaal, al kom die bokke in en staan hulle oral voor die skuiling. Sodra jy egter besluit om ’n spesifieke dier te skiet, skop die bokkoors in. My hart het partykeer só hard geklop dat ek nie kon glo ek val nie flou nie. Niks wou daarvoor help nie, nie eens ’n slukkie mampoer nie.

 

Al wat effens gehelp het, was om my boog aan die booghaak te laat hang tot ek gereed was om te skiet. Ek het eers die boog in my hande geneem nadat ek besluit het watter dier ek wil skiet. Ná ’n klompie jagte tref die bokkoors jou nie meer so erg nie, maar jy raak ook nooit heeltemal daarvan ontslae nie.

 

Bokkoors word ook minder wanneer jy daarop fokus om alles reg te doen. Een van die grootste gevare is dat jy weens bokkoors en oorywer te vinnig skiet. ’n Meer ervare jagter as ek het my jare gelede die akroniem “SASS” geleer. Dit staan vir “stance, attitude, spot, squeeze”.

 

SKOOTPLASING

Wanneer die bok voor jou staan, moet jy seker maak sy stance is reg. Hy moet dus só staan dat jy ’n doodskoot kan skiet. Die bok moet plankdwars of effens met die kop weg van jou af (quartering away) staan. Attitude staan vir die dier se houding. Is hy kalm of gespanne? Indien jy skiet terwyl die dier nog gespanne is, gaan hy waarskynlik jou pyl spring en kan jy hom wond. Wees geduldig en wag totdat hy rustig staan en vreet of drink. Indien die rooibok se nek lank uitgerek is en sy spiere bewe, kan jy maar weet jou pyl gaan nie tref waar jy gemik het indien jy skiet nie.

 

Wanneer die dier “reg” staan en ontspanne is, moet jy nie vir die hele doodmaaksone mik nie – kies ’n kolletjie op die dier en mik dan daarop. Onthou: “Aim small, miss small.” Dan moet jy ook die squeeze onthou. Jy kap nie die meganiese sneller nie, maar druk dit stadig soos wat jy die sneller van jou geweer sou druk. Dit is ’n stadige “druk”, nie ’n “trek” of “klap” van die sneller met jou vinger nie. As jy eers die hele skietproses deurdink en die stappe volg, is die kans baie goed dat jy ’n goeie skoot sal skiet en nie ná die tyd gaan voel dat jy oorhaastig opgetree het nie. Spyt kom altyd te laat.

 

Indien die bok effens skuinsweg van jou staan, kan jy ’n kol kies wat in lyn is met die voorbeen aan die dier se ander kant. Probeer om die dier se ingewande driedimensioneel binne die bok te sien. Jy wil albei longe tref, nie net een nie. As jy gelukkig is, tref jy ook die hart of die groot are net bo die hart. Dit is nogal handig om ’n boekie of prente van die “enjinkamer” van die verskillende bokke by jou in die skuiling te hê. Wanneer die bok instap, kan jy dit gou bestudeer. Dit laat jou baie meer gerus voel wanneer jy doodseker is jy weet waar om te skiet. Dit is veral handig as die sketse jou die skote uit verskillende rigtings wys, byvoorbeeld plankdwars, skuinsweg en effe van bo af.

 

Jy kan ’n skoot op ’n bok mis omdat jy té lank geneem het voor jy skiet. Dit is jammer wanneer dit gebeur, maar jy gaan baie minder by die kampvuur huil oor ’n bok wat weggekom het as oor een wat gekwes is. Jy betaal nie vir die bok wat jy nie geskiet het nie, maar gewis vir die een wat gekwes is en nie gevind kon word nie. Jy spaar ook ’n dier groot lyding as jy eerder seker maak van jou skoot en die dier dan weghardloop voor jy kon skiet. More is nog ’n dag én jy het nog geld in jou beursie om weer te probeer. Met meer ervaring gaan jy vinniger gereed wees om te skiet. Tot dan is dit beter om liewer oorversigtig te wees.

 

NÁ DIE SKOOT

Wanneer jy die bok getref het, moet jy hom dophou en na jou beste vermoë probeer onthou waarheen hy gehardloop het. Dit maak die opvolgproses makliker wanneer jy vir die spoorsnyers soveel inligting as moontlik kan gee. Jy moet gewis nie die skuiling verlaat om self na die dier te gaan soek nie. Stel die plaaseienaar of professionele jagter dadelik in kennis dat jy ’n bok geskiet het. ’n Mens wag gewoonlik ’n halfuur voor die dier gesoek word. Indien die dier binne ’n paar sekondes val, is dit wonderlik. Sou jy egter ’n bok opvolg wat nie dadelik doodgaan nie, sal hy skrik, adrenalien afskei en weghardloop.

 

Dit neem die dier dan soms baie langer as wat nodig is om dood te gaan en maak ook die spoorwerk soveel moeiliker. Die adrenalien kan veroorsaak dat die dier minder bloei en omdat hy hardloop, drup die bloed oor langer tussenposes op die grond. ’n Dier wat rustig en stadig wegstap, se bloedspoor is baie makliker om te volg as een wat in dolle vaart weghardloop.

 

Ander redes waarom ’n jagter ná die skoot in die skuiling moet bly, is dat hy dalk ’n tweede dier kan skiet voordat die spoorsnyers en honde opdaag, en ook dat die jagter nie per ongeluk oor klein druppels bloed loop wat nie raakgesien word nie. Die stilte in die bos word ook gehandhaaf en daar word nie onnodige geraas by die skuiling gemaak wat die diere afskrik en bang maak om die skuiling te besoek nie. Die diere moet daaraan gewoond raak dat mense net by die skuiling gesien word wanneer ’n bakkie of ander voertuig ook daar is. As die jagter dus op ’n ander tyd uit die skuiling klim en die diere gewaar hom, gaan hulle nie gou weer die skuiling besoek nie. Die skuiling sal dan vir ’n lang tyd oneffektief wees.

 

Indien jy gesien het jy het nie die bok reg getref nie, moet jy die eienaar daarvan sê. Dis beter om langer te wag voor ’n gekweste bok opgevolg word. ’n Swaar gekweste bok sal waarskynlik onder ’n bos gaan lê totdat hy doodgaan. Wag dus geruime tyd en volg dan eers op.

 

Wanneer ’n mens ’n gekweste bok té gou opvolg, gaan hy skrik en aanhou hardloop. Soms bloei die dier baie min of glad nie, en indien hy weghardloop, gaan die kanse om hom op te spoor baie skraal wees, veral as die boer nie goeie spoorhonde het nie. ’n Ervare plaaseienaar of professionele jagter gaan egter weet wat om te doen. Dit is dus raadsaam om hulle te sê as jy ’n swak skoot geskiet het.

 

Indien moontlik, kan jy ’n video van die jagskoot neem. Moet egter nie die kanse om ’n dier te skiet, opfoeter in ’n poging om ’n video te neem nie – dit het al met my gebeur. Ek het probeer om die selfoon in die opening van die skuiling te plaas om ’n video te neem. Die selfoon val toe om net voor ek die pyl loslaat en die bokke laat spaander. Nietemin, dit is gerusstellend om na ’n video te kyk en te sien dat jou pyl die bok getref het waar jy gemik het. Dan voel jy sommer dadelik goed en kan jy met selfvertroue vir die plaaseienaar sê jou bok lê nie ver nie. Jy kan egter ook sien as die skoot nie getref het presies waar jy beplan het nie en dan daarvolgens besluite neem.

 

Wanneer jy uit ’n skuiling jag, kry jy kans om baie meer diersoorte van nader dop te hou as wanneer jy loop en bekruip. Soms kom daar interessante voëls soos arende en uile drink, wat jy nooit van so naby in die veld sal sien nie. Die onaktiewe tyd in ’n skuiling kan ’n baie aangename ervaring wees wat jou die kans bied om die diere wat jy jag, se gedrag te bestudeer. Om ’n bok te voet te jag is egter ’n baie groter uitdaging wat baie meer vaardigheid van ’n jagter verg. In die volgende uitgawe skryf ek meer daaroor.