SA JAGTER/HUNTER | Februarie 2015 | Deur JOHAN VAN VUUREN

Boogjag soos die San

Ek het besluit om gedurende die laaste naweek in Augustus vir oulaas in 2014 te gaan jag. My bestemming was Themala Wildsplaas, tussen Bela-Bela en Koedoeskop, wat vier jaar gelede van geweer- na boogjag oorgeskakel het. Ek jag sedert 2007 gereeld daar en ken die plaas dus goed.

Die plan was om die wild eers in skuilings voor te sit. Teen tienuur die Vrydagoggend het die wind ernstig begin waai en met tye vlae stof by die skuiling se skietopening ingewaai. By die skuiling waar ek was, het ’n

vlakvarksog met drie speenvarkies kom water drink en later die middag het ’n troppie van sewe njalas vir ’n uur lank kom smul aan die groen lusern wat uitgesit is. Die ander twee jagters het slegs tarentale en verskeie voëls as gaste gehad. Alhoewel ons niks geskiet het nie, was dit tog lekker om die dag in die veld te kon deurbring.

 

’n Koue front het deur die nag inbeweeg en die Saterdagoggend was dit aansienlik kouer. Die wind het steeds gewaai, maar nie so sterk soos die vorige dag nie. Ons het so teen halfagt uitbeweeg na die skuilings toe, maar met die afklimslag het ek besef die wind waai uit die verkeerde rigting en dat die wild my heel moontlik sou ruik. Ek het myself maar tuisgemaak en gehoop dat die wind sou gaan lê of van rigting verander. ’n Stemmetjie in my binneste het my egter spoedig aangemoedig om eerder te voet te jag.

 

Om ’n bok met die loop-en-bekruip metode te skiet, is iets wat ek al vier jaar lank sonder sukses probeer doen. Dit was nie oorspronklik deel van my beplanning om op hierdie naweek te voet te jag nie, dus het ek my “blaarpakkie” (ghillie suit) wat jou soos ’n bos laat lyk, by die huis gelos.

 

Ná ’n halfuur se wik en weeg het ek besluit om die skuiling te verlaat – my gewone Sniper-klere moes maar doen vir die bekruipery. Ek het besluit om eers skuins saam met die wind tot in die noord-oostelike hoek van die kamp te beweeg, dan om te draai en windop, met die son van agter, stadig terug te jag na die skuiling toe. Uit ondervinding het ek geweet dat daar gewoonlik rooibokke, blouwildebeeste, waterbokke en koedoes in daardie area is.

 

Skaars 200m van die skuiling af loop ek in ’n troppie rooibokke vas. Hulle was so 25m weg, salig onbewus van my en het stadig weg van my af gewei. Ek het agter ’n rosyntjiebos stelling ingeneem, stadig ’n pyl uit die koker gehaal en in die boog geplaas. ’n Paar ooie het na regs beweeg en die plan was om die heel regterkantse een te skiet sodra hulle agter die bos uitkom. Die wind het egter skielik gedraai en hulle het, sonder om eers om te kyk, weggevlieg en tussen die bosse verdwyn. Ek kon dit nie glo nie, dit was amper te maklik! As die wind nie gedraai het nie, sou ek sowaar ’n skoot ingekry het.

 

Ongeveer 30 minute later gewaar ek vier blouwildebeeste naby die noord-oostelike hoek van die kamp, net waar ek wou terugdraai skuiling toe. Ek stap toe met ’n draai om agter hulle in te kom en met die hulp van die wind (wat die bos laat raas) kry ek dit toe reg om tot 20m van hulle af te bekruip. Ek het agter ’n bos geskuil, ’n pyl in die boog geplaas en gewag...

 

Een van die bokke het gemik om na regs uit te beweeg van agter die bosse. Ongelukkig het die blouwildebees ander planne gehad en draai toe links weg agter nog bosse in. Ek het haar (dit was ’n koei) stadig gevolg, maar toe gewaar ’n ander bok my waarvan ek nie bewus was nie.

 

Almal het weggevlieg en met ’n gesnork die bosse ingehardloop. Dit was weereens só amper! Op die res van die pad na die skuiling toe het ek verskeie kere diere gesien, maar kon hulle nie bekruip nie. Terug by die skuiling het ek besluit om na ’n ander een te verskuif wat meer gunstig geleë was vir die huidige windrigting.

 

Daar aangekom, het ek myself tuisgemaak, maar die oggend se voetjag het deur my gedagtes bly maal. Ek kon nie glo dat ek twee keer so byna die geleentheid gehad het om ’n bok te skiet soos die Sanmense van ouds nie.

 

Toe daar na ’n ruk steeds geen diere die skuiling besoek het nie, het ek besluit om ’n draai te stap. Ek het weer met ’n ompad gestap om die wind in my guns te kry en met die son nou skuins van voor het ek in alle erns begin jag. Ná ongeveer tien minute se stadige stap en kyk, stap en kyk, gewaar ek toe ’n rooibokram in die koelte van ’n groot bos. Ek het dadelik op my hurke afgesak en die ram bekyk.

 

’n Rukkie later sien ek toe nog twee baie naby aan hom... aldrie was heeltemal onbewus van my teenwoordigheid. Ek het stadig agter ’n bos inbeweeg en versigtig nadergegaan. Een van die bokke het na links begin wei en dis op hom wat ek gefokus het. Hy was ongeveer 30m van my af en met ’n pyl in die boog het ek gewag dat hy mooi oop kom. Ná sowat 10 minute het hy egter teruggedraai en in die rigting van die ander twee begin wei.

 

Ek het gewag tot die wind ’n bietjie sterker stoot en toe ongeveer 5m na links beweeg om agter ’n ander bos stelling in te neem. Die ram het by die ander aangesluit en die regterkantste een het skielik uitbeweeg, dwars voor my verby, op ongeveer 40m. Dis my persoonlike maksimum skietafstand en ek het my Mathews DXT gespan en die korrekte pennetjie (korrel) net agter die blad geplaas, een derde van onder af.

 

Die bok was weer rustig aan die wei toe die pyl hom met ’n hoorbare plofgeluid tref. Hy het die lug ingespring, na links gedraai en die bos in verdwyn.

 

Wat ’n gevoel! ’n Warboel van gedagtes en emosies het deur my gespoel. Was die skoot goed? Is dit vandag mý dag? Ek het my klein Garmin eTrex-GPS uitgehaal, aangeskakel en die plek gemerk vanwaar ek geskiet het.

 

Toe het ek aangestap na waar die bok gestaan het. Die GPS het aangedui die afstand is 41.9m. Ek het dadelik na die pyl begin soek ’n entjie aan die anderkant vanwaar die bok gestaan het. Gewoonlik penetreer ’n pyl ten volle op rooibokgrootte wild as daar geen groot bene getref word nie.

 

’n Pyl vertel jou natuurlik dadelik waar dit moontlik getref het. Is dit oortrek met helderrooi bloed, dui dit op ’n skoot deur die dier se “enjinkamer”, maar een wat met liggroen, halfverteerde gras besmeer is, dui op ’n pensskoot. Ek het die area goed deursoek, maar kon nie my pyl opspoor nie. Verskeie moontlikhede het in my gedagtes begin afspeel.

 

Ek is terug na die plek waar die bok gestaan het en het weer begin soek. En sowaar, net daar waar die ram gestaan het, kry ek my gebreekte, bloedbesmeerde pyl – die agterste gedeelte waaraan die vere (fletches) geheg is. ’n Groot kol met bloedspatsels was ook sigbaar op die grond en my hoop het opgevlam.

 

Ek het die bloedspoor begin volg en vir die eerste 10m of so slegs klein kolletjies bloed gekry. Die bok se spore was egter duidelik sigbaar. Ek besluit toe om in die rigting te stap waarin ek die bok sien weghardloop het. Ná omtrent 100m se stap en rondkyk sien ek toe die ram se horings bo die gras uitsteek. Groot verligting het oor my gespoel en toe ek by die bok kom, sien ek dat die skootplasing perfek was. Die ram het ’n volle 138m gehardloop met ’n Nitron 125gr-jagpylpunt deur die hart.

 

Die besef het tot my deurgedring dat dit wel moontlik en soms heel maklik is om bokke te voet met ’n boog te jag. Ek het nie naastenby die veldvaardighede van die Sanmense van ouds nie, maar skielik het ek my verbeel ek is soos een van hulle.

 

’n Beter laaste jagnaweek van die jaar kon ek beslis nie voor gevra het nie. Een ding weet ek: dit gaan moeilik wees om weer in ’n skuiling te sit en wag vir ’n bok om in te kom. Jag soos die ou Sanmense is waarna ek gaan streef in die toekoms.

BEL ONS | CALL US

Tel: +27 12 485 9382

E-POS ONS | EMAIL US
KANTOOR | OFFICE

Privaatsak X202, Pretoria 0001

Xcelpark, h/v | c/o Lynnwood & Roderick

Lynnwood, 0081 

Mon - Vry/Fri: 08:00 - 16:30

SA SE VOORSTE JAGTYDSKRIF 
SA'S LEADING HUNTING MAGAZINE

Vir alles wat die jagter en omgewingsbewaarder wil weet.

Keeping the hunter and conservationist in the know.

  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • YouTube Social  Icon
  • Instagram Social Icon
KONTAK DIE REDAKTEUR
CONTACT THE EDITOR

Koos Barnard

Koos.Barnard@Media24.com

012-485-9401