WEBWEERGAWE | 1 Augustus 2019 | Oorspronklik deur ELANA PRETORIUS

Boogjagwenke vir dames

Dames wat boogjag of -skiet wil begin beoefen, moet ’n paar dinge in ag neem...

1. DOEL VAN DIE BOOG

Eerstens moet jy besluit vir watter doel jy ’n boog wil aanskaf – om kompetisies mee te skiet of om mee te jag. Die boë wat vir kompetisies bedoel is verskil ’n bietjie van jagboë, dus moet jy die regte raad inwin voor jy koop. Daar is wel boë waarmee jy beide kan doen, maar jy moet vooraf besef dat dit ’n kompromie is. As jy spesifiek net wil kompetisie skiet of net wil jag, koop dan ’n spesialisboog. 

 

Verskillende kompetisieformate vereis ook verskillende boë. Vir die tradisionele Olimpiese dissipline benodig jy ’n meer tradisionele recurve-boog en nie die sogenaamde compound- of saamgestelde boog waarmee ons oor die algemeen jag nie. ’n Boog is nie goedkoop nie, so doen goeie navorsing en koop van die begin af die regte boog.

Kompetisieboë kan baie kleurvol en blink wees en daar is nogal baie tierlantyntjies en katoeters/bybehore wat jy aan hulle kan sit om die optimale boog te verkry. Met ’n jagboog is daar ’n paar dinge wat jy ingedagte moet hou. Jy moet funksionele bybehore op jou boog sit. Kies ook maar die meer tradisionele kleure vir ’n jagboog,want diere sien wel sommige kleur makliker raak as ander – jy wil juis inskakel met die omliggende natuur as jy jag, nie uitstaan nie. ’n Boog met neutrale veldkleure of kamoefleerkleure is verkieslik.

2. TRADISIONEEL OF SAAMGESTEL?

’n Ander besluit wat jy ook moet maak, is of jy ’n tradisionele longbow-, ’n tradisionele recurve- of ’n saamgestelde (compound) boog wil skiet. Die tradisionele boë, veral dié wat die geskikte trekkrag vir jag het, is moeilik om te bemeester en moeilik om te span. ’n Saamgestelde boog is meer gekompliseerd, maar uiteindelik veel makliker om te span en te skiet as die ou tradisionele soorte.


Vóór jy koop, besoek ’n booghandelaar wat jou sal toelaat om verskillende boë te toets. Daar is tans ’n groot hoeveelheid fabrikate op die mark om elke entoesias  tevrede te stel. Dis noodsaaklik om verskillende boë uit te toets, want hulle lyk almal effens anders en die verskillende fabrikate sit anders in jou hand en hul balans verskil ook.

Kies die kamoefleerpatroon wat by die omgewing pas – jy het verskillende kamoefleerpatrone en kleure nodig vir verskillende tipes jagterreine.
So lyk die boogsneller van naby. ‘n Mens skiet meer akkuraat met ‘n sneller as met die vingers.

Tradisionele boë word nog gespan deur die snaar met die vingers terug te trek. Met die saamgestelde boë wat so gewild
is, gebruik ons egter ’n spesiale sneller of sneller-eenheid. Dit 
bestaan uit ’n leerband wat om jou gewrig vasgespe, ’n hakie of bekkie waarmee die snaar teruggetrek word en ’n pennetjie of sneller wat gedruk moet word (amper net soos ’n geweersneller) om die sneller-eenheid se bekkie vinnig oop te maak sodat die snaar en pyl losgelaat kan word. 

Met ’n saamgestelde boog gebruik jy ’n korrel of sight-pin en ’n gaatjievisier wat in die snaar gemonteer is. Net soos met ’n geweer, word die korrel in die gaatjie van die gaatjievisier gesentreer en dan op die teiken geplaas. Nou word die sneller gedruk en jou pyl is op pad na die teiken toe. 
 

3. BEPAAL JOU TREKLENGTE

Voordat jy met ’n boog kan skiet sal die handelaar of instrukteur eers jou treklengte bepaal, met ander woorde hoe lank jou arms is. Dit gaan bepaal hoe lank die boog se treklengte of spanlengte moet wees sodat jy die boog tot sy volle potensiaal kan span en jou hand op die regte plek anker teen jou gesig/nek.


Moenie ’n boog koop waarvan die laagste trekkrag so swaar is dat jy sukkel om die boog te span nie. ’n Mens begin maar altyd skiet op lae ponde (die trekkrag waarteen jy trek). Soos jy oefen, sal jou arms en skouers sterker raak en sal jy veel hoër trekkrag/ponde kan baasraak. Vir ’n dame wat begin jag, sou ek ’n boog aanbeveel wat ’n minimum van 30lb-trekkrag het. Daarmee kan jy al redelike groot diere skiet. 

4. KEN JOU OË

Ietsie waarvan mense so maklik vergeet, en wat jy as nuwe boogeienaar asseblief moet onthou, is dat jy moet weet watter van jou oë die dominante een is. Dit gaan bepaal of jy ’n regterhandse of linkerhandse boog koop. As jou regteroog dominant is, maar jy linksom wil skiet, moet jy vooraf weet dat jy tien teen een nooit jou volle potensiaal sal bereik as boogskutter nie. Jy gaan eenvoudig beter skiet deur met jou dominante oog aan te lê/te mik. Let wel, as jy regs skryf, is dit geen waarborg dat jou regteroog die dominante een sal wees nie. ’n Maklike toetsie wat jy kan doen om dit te bepaal is as jy byvoorbeeld ’n toiletrolletjie optel om deur dit te kyk. Die oog waarmee jy instinktief probeer om
deur die rolletjie te kyk, is gewoonlik jou dominante oog.

5. VELDMONDERING
Wanneer dit kom by jaguitrustings is gemak die kernwoord, maak nie saak of jy diere gaan voorsit in ’n skuiling of boomstoel nie, en of jy gaan stap en bekruip nie. Die klere moet jou hele lyf bedek. Hoe minder van jou uitsteek, hoe beter, al moet jy nou ook soos GI Jane lyk met swart strepe oor jou wange. Onbedekte hande, gesig en liggaamsdele, asook die verkeerde hoofbedekking (hoed) staan uit in die veld. Sommige mense dra balaklawas as hoofbedekking as hulle jag. Dis belangrik om met jou volle veldmondering aan te oefen op die skietbaan. As jy met ander klere en hoofbedekking jag, gaan jy dalk ongemaklik voel en jou ankerpunte (waar jou hand wat die boog span stop en waar die snaar rus teen jou neus of gesig) gaan dalk verskil. 

 

Gelukkig het die vervaardigers van jagklere en toerusting darem al sekere aanpassings gemaak en word daar deesdae spesifiek klere en toebehore vir dames ontwerp en bemark. Die snitte van jagklere is nogal vleiend en vervaardigers akkommodeer alle shapes and sizes. Snuffel maar ’n bietjie rond en jy sal wel die gepaste jaguitrustings in die hande kry. Onthou ook dat een spesifieke tipe kamoefleerpatroon nie vir alle terreine gaan werk nie. Jy moet die regte kamoefleerpatroon vir elke veldtipe gebruik, anders gaan jy ook uitstaan.

6. PYLE EN PROOI

Die volgende aspek wat ook in gedagte gehou moet word, is die keuse van jou pyle en die pylpunte wat jy gaan gebruik. Die booghandelaar behoort vir jou mooi uit te werk watter tipe pyl met watter tipe styfheid (spine) die beste sal werk vir jou gekose boog. Hy sal ook aanbevelings doen oor die pylgewig en die pylpunt se gewig en watter tipes die beste sal werk vir dit wat jy wil jag.
 

Daar is hoofsaaklik twee tipes pylpunte vir jag – punte met vaste lemme en punte met lemme wat oopvou sodra dit die dier tref (die sogenaamde mechanical-jagpunte). Vir dames beveel ek pylpunte met vaste lemme aan, aangesien ons nie boë met dieselfde hoë trekkrag as die mans skiet nie. Die punte met lemme wat oopvou, vra meer spoed om die lemme mooi te laat ontplooi. ’n Mens is geneig om te dink dat ’n klein bokspesie die beste een is om jou boogjagtande op te slyp maar dis nie die geval nie. Kleiner boksoorte is baie rats en vinnig en kan, wat ons in boogtaal noem, “die snaar spring”. Enige boogsnaar maak ’n geluid as die pyl laat los word en daardie geluid is oor die algemeen hoorbaar vir bokke weens die kortafstand waarop boogjagters skiet. ’n Pyl trek relatief stadig en kleiner bokke reageer dikwels so vinnig op die “klap” van die snaar dat hulle ver genoeg wegspring en die skoot óf heeltemal mis is óf die pyl dalk net die bok kwes. Daarom beveel ek ’n koedoekoei aan as eerste bok vir ’n boogjagter. Koedoekoeie is groot (dus is die teikenarea vir doodskote ook groot) en hul reaksietyd is heelwat stadiger as dié van byvoorbeeld ’n duiker of selfs ’n rooibok.

BEL ONS | CALL US

Tel: +27 12 485 9382

E-POS ONS | EMAIL US
KANTOOR | OFFICE

Privaatsak X202, Pretoria 0001

Xcelpark, h/v | c/o Lynnwood & Roderick

Lynnwood, 0081 

Mon - Vry/Fri: 08:00 - 16:30

SA SE VOORSTE JAGTYDSKRIF 
SA'S LEADING HUNTING MAGAZINE

Vir alles wat die jagter en omgewingsbewaarder wil weet.

Keeping the hunter and conservationist in the know.

  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • YouTube Social  Icon
  • Instagram Social Icon
KONTAK DIE REDAKTEUR
CONTACT THE EDITOR

Koos Barnard

Koos.Barnard@Media24.com

012-485-9401