KOLSKOOT | 2021 |Deur JACQUES BOSHOFF

Almal se leermeester.jpg

Almal se leermeester

Dis waarskynlik redelik akkuraat om te raai dat die .22 LR verantwoordelik was vir die bekendstelling van derduisende mense aan die opwindende wêreld van “groot” gewere.

 

Volgens die gebruiklike prosedure het die meeste van ons ons skiettande met ’n windbuks geslyp. Sodra ons hom bemeester het, is ons daarna versigtig aan die .22 LR bekendgestel.

 

Ek onthou die dag soos gister toe ek die eerste keer met ’n “regte” geweer kennis gemaak het. Dit was ’n gehawende .22-geweertjie. Vergeleke met die slag van die windbuks waaraan ek toe reeds gewoond was, het die parmantige klap van die .22 toe ek die sneller druk, my sommer dadelik laat voel dat ek ook nou in die wêreld van grootmensgewere was.

 

Ek kon dadelik sien dat die .22 waarmee ek nou geskiet het, ’n perd van ’n ander kleur was. Die grootmense het nou baie moeite gedoen om die belangrikheid van wapenveiligheid te beklemtoon. Waar die leë koeldrankblikkie vantevore net ’n gaatjie ingehad het en stadig omgeval het as ek dit met die windbuks geklits het, was daar duidelik meer reaksie by die teiken as die .22 gepraat het! Ek het ook agtergekom dat daar feitlik geen terugskop was nie, al het die .22 lekker geklap as ek die sneller gedruk het.

 

BAIE VOORDELE 

Dis juis die .22 LR se talle positiewe eienskappe soos negeerbare terugskop, tesame met die gevoel van ’n “regte” geweer en bekostigbaarheid, wat dié kaliber so gewild vir opleiding van veral die jong span maak. Die meeste senterslagkalibers skop net eenvoudig te veel om ’n kind op die skietbaan mee touwys te maak. Bowendien raak die koste van ammunisie ook gou ’n wesenlike faktor om in ag te neem.

 

Aan die ander kant is die .22 LR ’n baie meer kostedoeltreffende opsie om die aanvanklike skietwerk mee te doen. Dis ’n kaliber wat by uitstek geskik is om selfvertroue op te bou en skietvernuf te slyp, en ek weet van baie min kinders wat nie in ’n japtrap amper verslaaf geraak het aan .22-skiet nie. Deesdae verkoop talle handelaars ook baie oulike teikens wat dinge nog meer interessant maak en die belangstelling prikkel. Klein valplaatjies en selfs teikens wat ontplof of ’n ander reaksie veroorsaak as hulle raak geskiet word, word al hoe gewilder en is toenemend in aanvraag.

 

Hou egter in gedagte dat .22-koeëltjies geneig is om van harde voorwerpe af terug te spat. Dra dus liewer voldoende oor- en oogbeskerming wanneer jy met die .22 skiet.

 

OORSPRONG 

Sover ek kan vasstel, is die oorsprong van die .22 LR soos ons dit vandag ken, ietwat troebel. Sekere bronne dui die oorsprong aan as die jaar 1887 deur J Stevens Arms & Tool Company. Ander bronne beweer die .22 LR is deur die Union Metallic Cartridge Company in 1884 bekendgestel. Die aanvanklike lading was 5 grein fyngemaalde swartkruit agter ’n 40-grein loodkoeëltjie, maar daar is vinnig ander warmer ladings vir die .22 bekendgestel.

 

Dis amper ’n uitgemaakte saak dat die aanvanklike denkrigting agter die .22 LR juis as ’n skyfskiet-patroon was. Wie die aanvanklike ontwerpers ook al was, hulle het uitstekend hierin geslaag. 

 

VERSKILLENDE SOORTE AMMUNISIE

Vandag is daar ’n wye verskeidenheid .22 LR-ammunisie in die handel verkrygbaar. Die gewildste lading staan as standard velocity bekend. Dit blyk dat dié lading se trompsnelheid gewoonlik in die omgewing van 1 070-1 125 vps is, maar dit kan tussen vervaardigers verskil.

 

High velocity-.22 LR-ammunisie se trompsnelheid is ietwat vinniger (1 200-1 350 vps), terwyl hyper velocity-ammunisie se trompsnelheid selfs nóg vinniger is – sommige vervaardigers s’n roem op 1 600 vps! Daar is ook vervaardigers wat patrone gelaai met haelkorreltjies vir die .22 LR produseer. Ek het nog altyd gewonder hoe doeltreffend dié kombinasie is op enigiets groter as ’n parmantige muis!

 

Aan die onderkant van die skaal is daar ook subsoniese ammunisie vir die .22 LR beskikbaar. Met subsoniese ammunisie en ’n knaldemper is die .22 LR feitlik geruisloos en dis juis hierdie eienskap wat dié ammunisie ietwat berug gemaak het. Na bewering was die kombinasie van ’n Beretta .22 LR-pistool met ’n knaldemper en subsoniese ammunisie een van die geliefkoosde wapens van die spioenasiediens van ’n sekere MiddeOosterse land vir doeleindes wat gelukkig nie op hierdie artikel betrekking het nie!

 

GEBRUIKE VIR DIE 

.22 Benewens om kinders mee te leer skiet, het die .22 LR ook ander gebruike. Talle mense vind dit baie ontspannend om met ’n .22 en ’n paar pakkies ammunisie skietbaan toe te gaan. Dis ook ’n bekostigbare en effektiewe manier om die oog gedurende die somermaande in te hou.

 

Daar is ’n klomp stories in omloop oor hoe groot bokke en selfs olifante met die .22 platgetrek is. Ek weet dit is ook deur die jare vir vele slagbeeste aangewend. Volgens my is die .22 egter nie ’n jagwapen vir enigiets groter as kleinwild soos hase en veerwild soos tarentale en fisante nie, selfs al word die vinniger ammunisie wat vandag beskikbaar is, gebruik.

 

Daar is tans baie verskillende skietkompetisies wat spesifiek op die .22 LR gemik is. Dit het op sy beurt weer die ontwikkeling van ’n groot verskeidenheid .22-gewere en -handwapens aangespoor. Die dae toe die tipiese .22 LR ’n gehawende ou geweertjie was wat van geslag tot geslag oorgedra is, is dus helaas verby. As dit by .22’s kom, is die keuses vandag so te sê onbeperk.

 

Die .22 LR is met goeie rede waarskynlik die gewildste kaliber ter wêreld. As leermeester, ontspanningsmiddel en selfs oorlewingshulpmiddel is dit onverbeterlik. Ek twyfel nie vir ’n oomblik dat almal se leermeester en liefling sal aanhou gedy so lank as wat daar geskiet en gejag word nie. Lank lewe die leermeester!