SA JAGTER/HUNTER | Junie 2017 | Deur PIETER COERTZE

Agter die berg

Ek is skaam om te moet sê dat ek die magiese waarde van díe kaliber, die .404 Jeffery, ontdek het eers nadat ek ’n roer wat daarvoor gekamer was, aangeskaf het. Die proses van aanskaf en regmaak is ’n storie vir ’n ander geleentheid, maar dié nommer is waar die storie begin...

Vir my was .404 ook maar net nog ’n nommer... Op ’n plaaslike forum klets almal oor die roere wat hulle aangeskaf het en ene Kallie merk my .404 op. Hy sê my toe hulle het ’n geselsgroep van ouens wat .404 Jeffery-gewere besit. Om eerlik te wees het ek aanvanklik gedink dis ’n bietjie vreemd, maar ek wou die geselsgroep uittoets en het aangesluit. Dadelik het die manne my tuis laat voel. Daar het ek besef dat dit sekere tipe persone met spesifieke karaktereienskappe is wat ’n .404 Jeffery aanskaf. Soos dit nou maar gaan tussen manne wat jag, is daar dadelik oor ’n .404-jag gekoukus.

Weens ons besige programme het dit heelwat kopkrap gekos om ’n geskikte datum te kry maar daar is uiteindelik op ’n datum in Augustus besluit. Kallie het die reëlings vir die vyf man gedoen wat die jag kon meemaak. Die jag is gereël van die Woensdag tot die Sondag, maar ek sou eers van die Vrydag af kon gaan.

Toe gebeur die lewe: Oom Koos moes onder die mes en Darren moes skielik na

Duitsland. So, toe is dit net Kallie en Deon wat van Woensdag af sou jag en ek van Vrydag af. Deon kon gelukkig ’n vriend naderkrap en ten spyte daarvan dat hy ’n .375 besit, is Jaco toe ’n bakgat ou.

So laat weet Kallie die Woensdag dat hy veilig aangeland het op die plaas in Tshipise en dat Deon-hulle op pad is vanaf Piet Retief. Ek is op daardie stadium nog aan die swoeg en arbei en kry myself bitter baie jammer, soveel so dat my kop begin maal met planne om die Donderdag al te ry.

 

Maar die noodlot wou ons maar net nie los nie! Deon is die een wat deurloop – ons is na vele bespiegelinge oor garage pies en goggas in die lug, steeds nie seker oor wat presies Deon beetgepak het nie, maar vát het hy hom gevat. Oor die noodstop sal ek niks sê nie, maar die kort van die lank is dat Deon in Louis Trichardt in die hospitaal opgeneem word met ’n duiwelse maagaandoening.

 

So begin die jag vir ons vier toe maar eensaam met Deon in die hospitaal, Jaco in ’n gastehuis in Louis Trichardt, ek in Pretoria en Kallie alleen om die kampvuur!

 

Teen Donderdag begin dinge toe darem beter lyk. Deon word ontslaan met ’n naby-stabiele konstitusie en ek trek sommer reeds Donderdagmiddag uit Pretoria weg. Sononder kom ek op die plaas aan en so met die inry groet ’n groot grys elandbul my waar hy reg in die pad staan. Is dit ’n teken?

 

Toe ek by die kamp stop, voel ek bekommerd, want om te klets op die internet is een ding, maar om ’n naweek saam met vreemdelinge te jag, is heel ’n ander koppie koffie om te sluk. Oor die jagkamp hou ’n reusekremetart wag – ja híérdie is agter-die-berg-wêreld. En sommer met die eerste bladskud besef ek dat ons .404-manne mekaar raak opgesom het en dat die naweek ’n groot sukses gaan wees. Ons kuier om die kospotte. Oor die vuur maak Kallie heerlike steaks en ons eet ons knuppeldik! Dié tamatieboer se tamaties is nie net lekker nie, hy kook ook sommer ’n hond uit ’n bos uit. Toe ons gaan lê is almal se mae lekker vol en seer van al die lag.

 

Vroegoggend se kondensmelkkoffie gaan goed af. Toe ek oom Johan, die plaaseienaar, ontmoet, voel ek meer soos ’n vriend as ’n kliënt – ’n aangename verrassing. Hy neem my om gou my geweer in te skiet en daarna ry ons veld toe. Ek besef dat hierdie ruie wêreld se jag harde jag gaan wees – jy skop nie ’n bok sommer onder elke bos uit nie. Tydens die eerste jagsessie sien ons wild, maar ek kry niks onder skoot nie, die ander manne ook nie.

 

Na ’n lekker brunch is ons weer veld toe. Daar is min dinge wat vir my so lekker is soos vroegoggend in die veld, hoewel laatmiddag naby kom. Veral as die son sak oor moeë lywe en die wind in jou hare speel agterop die bakkie op pad terug jagkamp toe.

 

Tydens die namiddagsessie kon ek weer geen wild onder skoot kry nie, maar Jaco met sy .375 is gelukkig en skiet ’n mooi koedoekoei. Saterdagoggend is ek en die gids op dieselfde bladsy en albei op ’n missie. Ons begin bergop, toe bergaf, toe om die kop, al soekend. Ons jag ’n gekweste wildebees raak en ek het gehoop op ’n moontlike skoot, maar terwyl ek probeer soek vir ’n kwesplek, is hy ongelukkig vort. Elande en koedoes kry ons wel op ’n afstand, maar dán is die wind nie reg nie of dán is die skoot nie oop nie. Só stap ons die oggend byna 14km ver sonder sukses. Moeg en dors arriveer ons by die kamp en kry die goeie nuus dat Kallie ’n mooi koedoebul geskiet het.

 

Pensvol, lekker middagslapie en toe breek die laaste sessie aan. Ek wonder: Gaan ek net herinneringe saamneem huis toe of dalk ook ’n vleisie? Daar is egter ’n groot rustigheid in my gemoed en ek hoop dat ons ten spyte van ’n woeste wind wat begin waai het, wel ’n kans sal kry om iets te skiet. By die aflaaipunt sien ons ’n paar koedoekoeie, maar hulle hardloop al blaffend weg.

 

Toe kry ons vars elandspore – nie net één nie, maar ’n páár groot bulle se spore! Ons verander ons taktiek. Anders as die oggend se roetemars, beweeg ons suutjies en letterlik bekruipbekruip vorentoe. Met die wind in ons ore sukkel ons om goed te hoor, maar nou en dan is daar ’n tak of klikgeluid (die geluid wat elandbulle se hoewe maak as hulle draf). Ons kry vars mis en beweeg stadig verder. Dan sien ons nat urine tussen die spore. So sluip ons vir die res van die middag kruis en dwars deur die bos al agter die reuse aan wat stadig heen en weer wei.

 

Kleur! So deur die takke begin die blougrys plek-plek wys! Die wind is in ons gesigte en die son sak oor ons blaaie. Perfek! Ons is op ons knieë onder die struike (maar die son sak té vinnig). Dis al 17:30 en ek begin wonder of ek ooit ’n skietkans sal kry. Elandbul-skiet is een ding, maar om ’n eland te kwes gedurende die laaste sessie op die laaste dag, en dít nog in die donker, is ’n heel ander storie... Die bulle is 30 treë voor ons in die ruigtes, maar daar is geen kans op ’n oop skoot nie.

 

Skielik gewaar ons ’n opening op bladhoogte, en jou wrintiewaar, daar beweeg die bulle in daardie rigting! ’n Goeie 15 minute verloop en die bobeenkrampe wilwil begin. Met die .404 aan die skouer mik ek daar waar die opening is. Die voorste bul wei stadig, tree vir tree nader aan dié hiatus. Hulle het geen idee van ons teenwoordigheid nie. Toe hy vorentoe beweeg, praat die .404 en ek hoor die koeël tref.

 

Skielik is dit net bulle waar jy kyk: een, twee, drie, vier, vyf en dan ses! Hulle hardloop ons amper onderstebo. My bul struikel na ’n kort entjie en val. Om seker te maak hy staan nie weer op nie, gee ek hom ’n vinnige kopskoot.

 

So eindig my laaste jagsessie toe met die perfekte einde. Die nag is óp ons en dit kos vinnig speel. Ek bly by die karkas terwyl die gids kamp toe radio sodat die bakkie ons kan kom oplaai. Eers hoor ek takke breek, toe sien ek ’n gevaarte wat in enige Mad Max-film goed sal aard – die oom se Hilux ry waar bobbejane met kieries sal sukkel! Ons meet en pas vinnig, die wen-as kreun, maar gelukkig kry ons die berg vleis gelaai. Toe ons ry, begin ek verstaan hoekom die takke so gekraak het, want die uitrit is beter as enige roller coaster-rit!

 

By die slagkamer vertel ons, skud blad, neem foto’s en vat ’n koue een! Deon het darem ook die middag ’n koedoekoei gekry, so daar was genoeg rede om te vier. Later, rondom die vuur, het ons die dag se ervarings gedeel en lekker gelag vir Kallie se storie. Hy het na sy oggendsukses sy .500 dubbel uitgehaal vir die middagjagsessie en kwansuis vra die gids hom toe: “Ek sien jy bring jou haelpyp, gaan ons ‘tarrentarre’

skiet...?”

 

Wat ’n onverwagse spesiale jag agter die berg! En nog meer – vriendskapsbande is dáár vir ’n leeftyd gesmee!

BEL ONS | CALL US

Tel: +27 12 485 9382

E-POS ONS | EMAIL US
KANTOOR | OFFICE

Privaatsak X202, Pretoria 0001

Xcelpark, h/v | c/o Lynnwood & Roderick

Lynnwood, 0081 

Mon - Vry/Fri: 08:00 - 16:30

SA SE VOORSTE JAGTYDSKRIF 
SA'S LEADING HUNTING MAGAZINE

Vir alles wat die jagter en omgewingsbewaarder wil weet.

Keeping the hunter and conservationist in the know.

  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • YouTube Social  Icon
  • Instagram Social Icon
KONTAK DIE REDAKTEUR
CONTACT THE EDITOR

Koos Barnard

Koos.Barnard@Media24.com

012-485-9401