SA JAGTER/HUNTER | Oktober 2017 | Deur CHRISTIAAN JOUBERT

En as ’n wildebees storm?

As ’n groene in die bosveld jag, skiet hy sommer maklik ’n bloue in plaas van ’n rooie…

Ek en die manne is ’n ruk gelede Thabazimbi toe om ’n bok of twee vir die pot te skiet. Dit was al laat in die jagseisoen, so die vrieskas was dolleeg en ons was dringend op soek na ’n stukkie vleis. Die 1 000ha-plaas was mooi, maar dit was ruig en dit was my heel eerste Bosveldjag te voet. Laatmiddag op die plaas aangekom, begin ons byna dadelik ’n vuurtjie aan die gang kry. Die vuurmaakplek is op ’n sementblad wat omring is met ’n heining van houtpaaltjies – beskut en sommer baie lekker ruim vir groot kuier en kosmaak.

Ons is egter vroeg bed toe en douvoordag, voor ’n mossie kon piep, was ons almal reeds op en gereed vir die jagdag wat voorlê. My pa het gesê hy sal vir my bok betaal – ek kan ’n blesbok- of ’n rooibokram skiet.

Die plaas is met paadjies in blokke van agtstes verdeel en elkeen van ons is saam met ’n gids afgelaai op een van dié blokke. Ek, wat nog nat agter die ore is as dit by jag kom, kry toe ’n jongman met ’n bloedrooi mus. Bo en behalwe sy jeugdige (onervare?) ouderdom, kan hy nie ’n enkele woord Afrikaans verstaan nie. Na ’n ent se stap, moet ek eers stop om in my Boere-Ingels aan hom te probeer verduidelik dat hy nie al die takkies en droë blare moet raak trap nie.

Terwyl ons stap, probeer ek om ’n diknekrooibokram deur die rosyntjiebos raak te sien, maar al wat ek voor my kan sien, is die man se rooi kappie. Elke nou en dan raak ek opgewonde as ek die gekap hoor van horings wat stoei, maar dan is ek net so vinnig teleurgesteld as ek sien dis net die houtkappertjie teen ’n doringboom.

Christiaan en sy gids met die rooi mus by die blouwildebeesbul wat hy platgetrek het.

So is dag een verby sonder dat ek ’n enkele diknek te siene kon kry. Ek is gelukkig darem nie die enigste man sonder ’n bok nie. Om die kampvuur vra die manne waarna ek op soek is. Nadat hulle gehoor het ek betaal nie vir die bok nie, begin hulle skerts met, “Nou wat as ’n blouwildebees jou in die veld storm?” en “As jy ’n eland skiet wat storm, kan jou pa mos nie kwaad wees nie?” My pa sit net in stilte en lag vir die manne se stories. Ons gaan weer vroeg bed toe omdat ons vroeg wil opstaan.

“Vandag is die dag,” sê ek vir myself op dag twee, “Daardie diknek gaan lê...” Ek en Rooikappie is weer die veld in. Teen middag se kant sien ek ’n troppie blesbokke ’n ent van my af. Ek beduie vir die man met die hoed dat hy moet bly staan sodat ek die bokke kan bekruip. Ek val plat en begin stadig nader beweeg, agter ’n bossie in sodat die bokke my nie moet raaksien nie. Na ’n entjie se kruip vang my oog ’n paar kameelperde wat agter ’n doringboom staan en hulleself vergaap aan die snaakse ding met sy dik jas en sy maatjie met die rooi hoed. Net toe ek binne skietafstand van die blesbokke is, besluit die langnekke dat hulle wil omspring en weghol. Die blesbokke volg toe natuurlik hulle voorbeeld. En vir die res van die dag het ek weer net “takbokke” gesien.

Die manne se geskerts en slimpraatjies om die kampvuur raak net meer... “Wat van die blouwildebees? As jy prys per kilo vergelyk is die blouwildebees ’n beter kopie.” En my pa sit net daar in stilte en lag vir die manne se storietjies. My gedagtes begin dwaal en ek dink: “Wel, hy het darem nie nee gesê toe die manne so spot nie.” Ek gaan bed toe met die stresvolle gedagte dat môre die laaste dag in die veld is, en tot dusver lyk die veld maar leeg.

Vroegdag is ek egter met nuwe veerkrag in my stap die veld in. Ek skiet met ’n .30-06 Mauser wat my oupa vir my gegee het. Dit was sy eerste jaggeweer wat hy gekoop het toe hy 21 jaar oud was, so die geweer het nie moderne fieterjasies op/aan nie. Ek besit ook nie ’n skietstok nie, so ek breek vir my ’n dooie tak met ’n mik af as plaasvervanger. Rooikappie dra die stok en ek die geweer.

Teen die middag se kant (ek het steeds nie ’n enkele bok gesien nie) hoor ek ewe skielik ’n geskarrel in die gras en ek loop versigtig om ’n rosyntjiebos om te probeer ondersoek instel, maar ek sien niks wat die lawaai kon veroorsaak het nie en ek vermoed dat dit seker net ’n veldmuis is. Maar toe ek opkyk, staan ’n blouwildebees in die skadu van ’n boom, 80 meter van my af, mooi plankdwars.

Ek roep vir Rooikappie nader met die skietstok, lê aan en KADOEF! klap die skoot. Die bul bokspring en... weg is hy! “Perfekte skoot,” dink ek by myself en sit die bees agterna die bosse in. Omdat ek nog dom en onervare is, merk ek nie die skietplek of die boom waar die bok gestaan het toe ek hom geskiet het nie.

Die manne woes besig om kos te maak. Hier het ons lekker gekuier.

Na ’n entjie se soek, skop die realiteit in: Ek het hom gekwes! Ons soek bloed en spore, maar kry absoluut niks. Ek besef dat ons die skietplek moet soek en ek kry uiteindelik ’n plek wat min of meer bekend lyk, maar nie ek of Rooikappie kry enige tekens van ’n bok wat geskiet is nie. Niks nie. Ek kou reeds my naels as ek dink dat ek vir my pa moet gaan sê ek het ’n bok gekwes, en nogal een wat drie keer die prys is van ’n rooibok of blesbok. Na ’n lang soektog be- sef ek dat ek my pakslae maar soos ’n man sal moet vat en ek bel my pa.

Met elke trrr trrr van die telefoon klim my hart verder in my keel op. Die adrenalien pomp meer as toe ek die bok agterna gestorm het. “Hallo, askies ek is nie nou beskikbaar nie,” hoor ek my pa se boodskap. Ek bel my ma om haar te vertel wat ek nou aangevang het en om te sien of my oproepe deurgaan. Ek wil haar vra om vir my te bid, want ek is diep in die sop.

Ek begin weer soek, en daar lui my foon! Dit voel of my foon in ’n stuk lood verander wanneer ek hom optel en teen my oor druk. Dis my pa. Ek vertel hom wat gebeur het en hy kry al die mans wat by die kamp was op die bakkie en laat weet hulle is op pad na my toe. Ons sal mekaar by die naaste grenspad kry en ek begin stap. Rooikappie bly agter om die plek te merk. Op pad na die ontmoetingspunt loop ek reg teen ’n troppie elande verby, die een bul raak onrustig en begin blaas. Ek voel klein en ek vloek vir Murphy terwyl ek ’n patroon in die kamer stoot. Toe ek uiteindelik verby hulle is, dank ek net my sterre dat hulle niks gemaak het nie, want dan sou my pa se gesig soos Rooikappie se mus gelyk het.

Ek kry die manne, ons vorm ’n lyn en begin deur die veld te stap in die rigting waarin my blouwildebees verdwyn het. Terwyl ek stap, is my moed in my skoene. Maar toe kom die oproep: “Hier lê jou blouwildebees.” ’n Berg val skielik van my skouers af, maar toe besef ek dat ek steeds ’n bloue in plaas van ’n rooie geskiet het. Toe ek nader kom, groet my pa my met ’n stewige druk (omhelsing); ek dink hy was te verlig om kwaad te wees. Soos die kraai vlieg, het die bok 300 meter van die skietplek af gelê, maar hy het eers eenkant toe gehol, ’n draai gemaak en teruggesirkel voor hy dood neergeval het.

Met die slagtery ontdek ons dat my eerste instink reg was; die blouwildebees se hart het los in sy borskas gelê. Ek het sy hart morsaf geskiet, voor die een voorbeen in, agter die ander voorbeen uit. Al die bloed het binne die dier se borskas uitgepomp en nie ’n enkele druppel het op die grond beland nie. Ek besef net weereens hoe taai ’n blouwildebees regtig is. Vir oulaas het ons die laaste aand met lekker harte saamgekuier om die vuur in die gesellige braai-area, skilpadjies gemaak en gemsbokpot geëet. So eindig my eerste Bosveldjag toe heel goed nadat dinge amper skeef geloop het.

BEL ONS | CALL US

Tel: +27 12 485 9382

E-POS ONS | EMAIL US
KANTOOR | OFFICE

Privaatsak X202, Pretoria 0001

Xcelpark, h/v | c/o Lynnwood & Roderick

Lynnwood, 0081 

Mon - Vry/Fri: 08:00 - 16:30

SA SE VOORSTE JAGTYDSKRIF 
SA'S LEADING HUNTING MAGAZINE

Vir alles wat die jagter en omgewingsbewaarder wil weet.

Keeping the hunter and conservationist in the know.

KONTAK DIE REDAKTEUR
CONTACT THE EDITOR
  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • YouTube Social  Icon
  • Instagram Social Icon