SA JAGTER/HUNTER | Maart 2017 | Deur PIERRE MARAIS

Die sewejaar-koedoe

Dit is hoe lank dit my geneem het om my eerste koedoe te skiet. Sewe jaar.

My eerste kennismaking met koedoes was toe ek, my pa en my broer in 1980 in die Bosveld gaan jag het. Dit was ’n baie besonderse jag. Ons was drie pa/seun-kombinasies wat vir twee weke onder ’n groot kremetartboom in die verre Noord-Transvaal gekamp het. Die plaaseienaar het ons toegelaat om vrylik op die plaas te beweeg. Ons kon jag wat ons kry. Ek sou baie graag weer op so ’n jag wou gaan. Ek was nog ’n baie jong seun, maar het gou agtergekom dat hierdie skim van die bosveld hom nie sommer laat skiet nie.

Dit was eers jare later dat ek self die geleentheid gekry het om koedoes te jag. Min het ek geweet wat vir my voorlê... Ek het later jare vir my ’n Musgrave .30-06Vrystater aangeskaf. Dis nie die enigste Musgrave wat ek besit nie, want ek heg baie waarde aan hierdie eg Suid-Afrikaanse geweer. Ek wou ook baie graag my eerste koedoe te voet skiet en verkies om sonder ’n gids te jag. Baie mense reken ek kon lankal ’n koedoe geskiet het, en ek kón, maar dis nie waaroor dit vir my gaan nie. Ek wou hierdie skim van die bos in sy agterplaas uitkrap en uitoorlê.

Met my .30-06 in die hand het ek begin om koedoes in die Karoo te jag. Dié jagte was baie opwindend en besonder uitdagend. Drie jaar lank het ek agter koedoes aangestap. Vroegoggend was ek in die veld, te voet, om te soek en te hoop daar is ’n koedoe agter die volgende rantjie of in die volgende bos. Ek het koedoes gekry, maar ek kon nooit ’n oop skoot kry nie. Ek het wel een jaar die kans gekry om ’n pragtige ou gemsbokbul te skiet, maar dít is ’n ander storie. Na drie jaar van hard jag op dieselfde plaas, het ek besef dat ek moes aanskuif.

Die volgende geleentheid wat ek gekry het was weer in die Karoo, saam met Jaco van Deventer van Cape Nature. Daar is iets onbeskryfliks aan die Karoo. Ek is nie seker of dit die stilte is, die ongereptheid van die landskap, die ongelooflike plantegroei, die helder nagte of sommer al bogenoemde nie, maar ek was weer terug en dit was lekker.

Hier sit ek by die koedoe waarvan ek in die storie vertel.

Jaco het my saamgenooi op sy jaarlikse jag en sy veldkennis is iets om te beleef. Ek het geleer van die gisplant, die Boesmanskers, die noem-noembos en nog baie meer. Ons het in ’n baie klein jaghut gebly en elke oggend vroeg die veld ingestap. Agter die jaghut was ’n standhoudende stroompie en ek het elke oggend my waterbottel daar volgemaak. Ons het ure in die veld spandeer. Ons het wel koedoes teëgekom, maar die ou groot bul het ons bly ontwyk. Baie oggende het ons ’n enkelspoor in die rivierloop gekry en dit gevolg, maar die ou skelm was te slim vir ons. Na ’n week se jag het Jaco ’n jong bul gekry, maar ek is terug met leë hande. Dit was egter ’n ongelooflike week in die veld.

Ons jaarlikse springbokjag word deur my goeie maat Sakkie gereël en hy het besluit om die springbokjag te verleng en ’n koedoejag in te sluit by ons jag. Ons het koedoes in die berge agter Steytlerville gaan soek. Daar het ons die voorsittegniek gebruik – die boer se werkers het die koedoes in die vallei onder ons uitgejaag en na ons kant toe gedruk. Sakkie het hom oor my ontferm en my die beste voorsitplek gegee, heel aan die begin.

Ou koedoejagters weet dat die groot bulle hulle nie laat aanjaag nie, en dit was ook net so. Die werkers het die vallei opgestap en die koedoes het uitbeweeg. Kort voor lank het die skote geklap en die eerste koedoes was plat. Terwyl ons aan die begin van die vallei gewag het, het ons gesien hoe ’n pragtige, volgroeide bul sy pad terugwerk na ons kant toe. Dit was ’n ongelooflike gesig om te sien. Ek het myself in posisie gekry. Die bul is onder ons deur en toe hy die rivierloop skuins onder ons kruis, fluit die boer. Die oomblik toe hy stop, druk ek die sneller... Die skoot het egter nie afgegaan nie. Die slagdoppie moes foutief gewees het. (Ek het nog steeds daardie patroon.)

Die volgende jaar is ons weer Steytlerville toe. Hierdie keer het ons op Wayne Kirkman se plaas gejag. Ek, Sakkie en sy broer, Piet, het saam voorgesit. Piet het die eerste bul platgetrek. Volgende was dit my beurt. Nog ’n bul het uit die bos gebreek en op ongeveer 180m voor ons gaan staan. Ek het aangelê, maar hom heeltemal mis geskiet. Later daardie aand in die hotel het ek besin oor wat verkeerd gegaan het. Piet het dit mooi opgesom: “ ’n Koedoe is ’n besonderse dier om te jag. Al jag jy vir jare, gee hy jou nog steeds koors.” Dit is baie waar. Ek skiet en jag al vir baie jare, maar om aan te lê op ’n koedoe, bly ’n besonderse ervaring.

Toe ek terugdink aan hierdie twee verspeelde kanse was ek nie teleurgesteld nie. Ek wou eintlik nog steeds my eerste koedoe te voet skiet, onversteurd, in sy natuurlike omgewing, hy salig onbewus van my. So ’n geleentheid het dieselfde jaar opgeduik.

Na die Steytlerville-jag het Sakkie my na hulle familieplaas in die Kirkwood-omgewing genooi. Ek was al verskeie kere daar en het al pragtige bosbokke daar geskiet. Hierdie keer het Sakkie gesê ons is daar om koedoes te skiet. Ons was vir ’n week op die plaas, soggens vroeg reeds te voet die veld in. Soos te verwagte was die koedoes ongelooflik skelm. Op die vierde dag het Sakkie ’n groot bul gesien, maar besluit om hom te los. Op die voorlaaste dag het hy ’n jong bul geskiet. Die laaste dag het ek en Sakkie saam gejag maar kon niks kry nie. Na ’n harde week in die veld het ek weereens met leë hande huis toe gegaan, maar die jag en die tyd in die veld was steeds onvergeetlik.

Nadat ons die koedoe teen die berg af gedra het, het ons eers onder hierdie boom gerus.

Ons is weer Steytlerville toe vir ons jaarlikse springbok- en koedoejag. Sakkie het met Wayne gereël dat ons ’n dag vroeër deurkom om in sy bergkamp koedoes te soek. Ons het die oggend bymekaargekom en looitjies getrek. Ek het die looitjie vir die area heel bo-op die berg gekry. Min het ek geweet hoe steil dit sou wees. John Kirkman, Wayne se neef, het ons afgelaai en ek en Wesley, die plaasvoorman, is teen die berg op. Na sowat ’n uur se stap en kruip teen die laaste stuk uit, was ons bo. Toe ons bo kom, het ek eers gestop, my asem teruggekry en foto’s geneem. Die uitsig van daar bo af is ongelooflik mooi.

Op die rand van die berg langs het ons begin stap en op ’n trop met twee mooi bulle afgekom. Hulle was aan die ander kant van die grensdraad en ons kon hulle nie skiet nie, maar dit was lekker om net na hulle te kyk. Die volgende oomblik het ’n trop onverwags van voor af aangekom en is sowat 50 meter onder ons verby. Saam met hulle was ’n pragbul. Hy het agter ’n bos gestop en toe teruggekyk. Die wind was in ons guns en hy was salig onbewus van ons.

Ons het nader gekruip en ek het in posisie gekom. Die bul was nou ongeveer 40 tot 50 treë onder my. Ek het aangelê en my reggekry vir die skoot. Voordat ek skiet, het ek besef ek moet net eers kyk waar die ander jagter is en seker maak my skoot is veilig. Ek het opgekyk en toe ek terugkyk, was die bul weg! Hy het aangestap en ek moes van posisie verander met die hoop om hom weer te kan sien. Wesley het in sy posisie gebly om te soek. Na ’n ruk het Wesley my laat weet dat hy die bul sien en dat ek terug moet klouter. Ek is weer op teen die rotse, en daar staan hy toe agter dieselfde bos. Ek het myself reggekry en die sneller gedruk.

Die bul het weggespring met sy stert in die lug, ’n goeie teken. Hy het na ons kant toe gestorm en onder ’n bos gaan staan. Ek en Wesley het die bos fyn dopgehou en gewag vir enige beweging. Kort daarna het hy onder die bos uit geval. Die jag was verby (of so het ek gedink)! Die volgende oomblik spring die bul op, hardloop sowat 20m verder bergaf en gaan staan onder ’n ander bos. Ons kon hom nie meer sien nie. Wesley het sy posisie gehou en ek is bergaf. Toe ek by hom kom, het hy dood onder die bos gelê. Wat ’n verligting!

Ons het nader gestap en foto’s van die bul geneem in die posisie waarin hy geval het. Uit respek vir die dier het ek ’n paar blaartjies in sy mond gesit, as teken van ’n laaste maal, en dankie gesê vir sy lewe. Dit was ’n ongelooflik jag en ek sou dit op geen ander manier wou gehad het nie. Na al die jare het ek my koedoe gekry, net soos ek dit wou gehad het.

Later daardie aand het ons klomp vriende baie lekker gekuier, gesels en gelag oor die stap teen die berg op, die bekruip en Wesley wat vir my die koedoe gewys het. Maar voor ons kon ontspan, moes ons eers daardie koedoe teen die berg af kry en dít was geen grap nie!

BEL ONS | CALL US

Tel: +27 12 485 9382

E-POS ONS | EMAIL US
KANTOOR | OFFICE

Privaatsak X202, Pretoria 0001

Xcelpark, h/v | c/o Lynnwood & Roderick

Lynnwood, 0081 

Mon - Vry/Fri: 08:00 - 16:30

SA SE VOORSTE JAGTYDSKRIF 
SA'S LEADING HUNTING MAGAZINE

Vir alles wat die jagter en omgewingsbewaarder wil weet.

Keeping the hunter and conservationist in the know.

KONTAK DIE REDAKTEUR
CONTACT THE EDITOR
  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • YouTube Social  Icon
  • Instagram Social Icon