SA JAGTER/HUNTER | Oktober 2017| Deur HERMAN JONKER

’n Blou bul in Boesmanland

Eland? Ja, natuurlik. Baie manne sal jou sê hulle het al een geskiet. Sommer ’n hele paar, sal party vertel.

Wat hulle egter miskien nie altyd besef nie, is dat alle elande nie dieselfde is nie. Jy kry elande wat mak-mak in kampe rondwei en naderkom vir hulle lusern. Jy kry dié wat staan vir ’n foto of ’n koeël. Jy kry bosveldelande wat jou laat soek, en dan kry jy die ware wilde elande van Afrika. Jy kry hulle daar waar die bos nog wild is en die vryswerwende troppe deurgaans op die uitkyk moet wees vir gevaar.

Onder jagters van die ou Suid- wes was die elande van Boesmanland legendaries. Troppe van honderde het in hierdie strawwe sand- en boswêreld voorgekom in die ou dae. Dis hulle heimat. ’n Oubaas het eenkeer vertel hoe hy in die Omataku Omuramba moes stilhou vir ’n trop wat die pad kruis. “Gooi solank daar vir ons ’n koffietjie uit die fles,” het hy vir sy vrou gesê. “Hier gaan ons lank wag.” Toe die rooilynheining in die 1960’s opgerig is om bek-enklouseer te beheer, is die elande se trekroetes versper en het hulle in groot getalle gevrek, maar vandag loop hulle nasate steeds wild en vry in die Nyae-Nyae.

Die Nyae-Nyae is ’n bewarea van bykans ’n miljoen hektaar aan die westelike rand van die Kalahari, sonder enige drade en met net enkele ou militêre kaplyne as paaie. Dis die stamgron de van die San-mense, met Tsumkwe as sentrale dorpie. In die ooste grens dit aan Botswana, in die noorde (sonder heining) aan die ongerepte Khaudum Nasionale Park, in die suide aan Hereroland, en in die weste – ook oop – aan ander jag- en stamgronde. Dis ’n plat, dor wêreld van oop doringsavanne deurspek met tydlose kremetarte en panne wat kalkwit strek in die winter, maar in goeie jare kan hulle verander in vleilande met duisende flaminke en ander watervoëls. Daar’s sowat 1 500 olifante in die gebied, asook leeus, luiperds, vlaktewild van talle soorte, en selfs rariteite soos troppe wildehonde en bastergemsbokke.

Dis juis ’n bastergemsbokbul waaragter ons was toe ons een oggend vroeg die tweespoor uit die jagkamp vat. Stephan Jacobs, die konsessiehouer vir die gebied, het vir homself een uitgehou van die kwota wat andersins deur sy trofeejagters gevul is. Met die seisoen op ’n einde is dit net Stephan, sy mede-PH, Ben van Wyk, en ek in die kamp. Enkele kwotadiere was nog beskikbaar en ons was dus op ’n ontspanne ‘personeeljag’.

’n Pragbul – beide horings meet 37.2”

Na dae van moordende 43 ºC Novemberhitte het ’n woeste donderstorm twee aande tevore uiteindelik die lang droogte gebreek. Die dik sand van die tweespoor was dus lekker vas en die rit van twee ure na die suide van die gebied sou vir ’n verandering ’n maklike een wees op dié heerlike oggend.

Oudergewoonte word gelet op elke vars spoor terwyl ons ry. Olifant, olifant, hiëna, olifant, leeu, koedoe... Die Boesmanspoorsnyers agter op die Cruiser mis niks maar hulle sê ook niks. Sulke spore is volop hier en alle oë was op die uitkyk vir bastergemsbok. En dan, skaars drie kilometer uit die kamp, skielik: Eland! Groot en breed lê die bul se spore oor die pad – die einste oggend se vars! Dadelik sleep die Cruiser se wiele tot stilstand. Die bastergemsbok was vir eers vergete. Hier rond is eland ’n groter uitdaging as selfs ’n 70lb olifant en ons hét een eland op permit. In die vyf jaar wat Stephan die konsessie jag, kon hulle nog net daarin slaag om een van hierdie ontwykende diere te skiet. Kan daar dalk vandag nóg een van die legendariese skimme van die Nyae-Nyae val?

Die opgewonde jagspan het dadelik gereed gemaak. Stephan, Ben, twee spoorsnyers en Kumtsa, die veldwagter, sou die spoor vat. Ek en Slinger, die ander spoorsnyer, moes terug kamp toe om van daar die radio te monitor ingeval ons moes ingaan met ’n herwinningspan. In die Naye-Naye word bykans sonder uitsondering gejag deur spoor te loop. Die Boesmans is meesters van die kuns en die sandgrond maak dinge ook makliker. Boonop was die veld ’n vars bladsy na die reën, maar dis steeds ’n elandbul waarmee die jagters te doen het. As jy in hierdie wêreld eland wil jag, moet jy nie net kan spoorsny nie, jy moet ook tussen die lyne kan lees.

Elande het uitstekende sintuie, waaronder besonder goeie sig. Hul waaksaamheid waar hulle met roofdiere soos leeus of jagters te doen het, is uiters ontwikkeld, maar hul beste verdediging is stamina. Gee jy hulle aanstoot, draf hulle nie net ’n ent weg en gaan staan weer soos ander boksoorte nie; nee, hulle emigreer bykans. As jy aan eland stamp kan jy maar weet: Stap gaan jy stap. Dit het ek al in die 1980’s op die harde manier geleer in die Nuanetsi in Zimbabwe. Vol voortvarendheid het ek elke keer ’n trop bekruip, net om maar weer op ’n toer van die distrik geneem te word. Na drie dae van elande agtervolg was daar steeds nie ’n eland aan die haak nie, en ek was op krukke.

Ek was dus maar skepties toe Slinger op pad terug kamp toe vir my sê, “Hulle sal hom skiet vandag, daardie eland.” “Wat laat jou so dink?” het ek gevra. “Daardie voëletjie wat kap by die boom, daardie een met sy kop is rooi, hy’t my gesê. Ek hoor hom daar waar ons gestop. Hy vertel daardie ding wat kom, daardie voëletjie. Hy ken almal die dinge wat kom.” “Ja?” vra ek vir Slinger, “maar daardie voëletjie met sy kop is rooi, ken hy hierdie wêreld se elande?”

’n Ou elandbul wat alleen loop is baie moeilik om te agtervolg. Wat uitgeslapenheid betref het hy meer as ’n bietjie buffel in hom. Hy hou deurgaans sy agterhoede dop en wanneer hy wil rus, kies hy ’n ruigte van waar hy oor sy spoor kan waak. Dikwels sirkel hy eers sodat hy enige agtervolgers op sy spoor kan monitor en dan stil-stil kan wegglip.

Hier word die mooi elandbul gelaai. Dis harde werk.

’n Trop is ’n bietjie makliker om te benader terwyl hulle aktief is, as gevolg van hul eie bewegings en geluide wat die jagter s’n verdoesel. As hulle egter eers loop laer trek, raak die jagter se kanse skraal. Nie alleen neem so ’n rustende trop ’n posisie van rondomverdediging in digte bos in nie, maar die jagter kry dikwels ook te doen met daardie slinkse ou skildwag wat die Boesmans die ‘windbul’ noem. Só ’n bul patrolleer takties aan die buitewyke terwyl die trop beweeg. Wanneer hulle stop vir ’n middagrus, gaan lê hy ’n hele ent onder die wind van die ander, gewoonlik goed versteek. Van daar af ruik hy die jagter wat probeer inkruip op die trop se spoor en wanneer hy dan wegstorm, sit die hele trop op loop.

’n Tipiese elandjag begin gewoonlik vroegoggend op vars spore maar tensy hulle baie vars is – soos die bul in hierdie storie s’n – gaan die jagter hom dus teen middag se kant vasloop in uiters waaksame prooi. Daarom is dit raadsaam om so teen tienuur eerder te halt en dan later die middag, wanneer die elande weer begin beweeg, die spoor verder te vat. Sal die jagspan betyds opvang met die bul, sit en wonder ek dus toe in die kamp. Of gaan dit ’n lang dag raak, miskien op ’n eindelose spoor? Nie dat ek aan Stephan en sy manne se vermoëns getwyfel het nie – ek het al tevore saam met hulle olifant gejag en ek weet: Dis meesters wat nou daar buite aan die werk is. Maar… dis ’n elandbul waarmee hulle te doen het. ’n Uitgeslape blou bul, hier in eland se hartland.

Een aspek wat darem in die jagters se guns tel, is dat eland ten spyte van sy grootte ’n relatief ‘sagte’ dier is. ’n Koeël knou hom gou en selfs ’n af been pootjie hom as gevolg van sy gewig, anders as byvoorbeeld ’n springbok wat maklik voortsnel op drie bene. As ’n eland wegkom met ’n kwesskoot is hy gewoonlik net deur die nekvleis of hoog in die kam geskiet. Maar sal die manne ooit ’n kans kry vir ’n skoot? Een uur het verby gegaan. Twee ure. Drie. Die radio was stil – doodstil. “Wat het die voëletjie gesê?” het ek vir Slinger gevra. “Hoe laat sal hulle hom skiet?” “Huh-uh,” het Slinger geantwoord. Daardie voëletjie hy het nie horlosie nie.”

Vyftien minute later het die radio in die Cruiser gekraak. “Hy lê,” het ’n hoorbaar dankbare Stephan gerapporteer, en begin aanwysings gee na die naaste pad toe. Dit was ’n gunstige spoor wat die jagters die oggend gevat het. Dit het noord gelei, sowat drie ure oud, met ’n sterk windjie van voor. Hulle kon dus aanvanklik ’n goeie pas handhaaf. Die eland het deurgaans gestap en nie gewei nie, maar hulle het gehoop om hom in te haal as hy sou talm. Oor die ooptes het hulle vinnig beweeg, maar elke digter deel is eers baie mooi deurgekyk met die verkyker en dan baie stadig benader. Mettertyd het die spoor van digte bos na digte bos begin lei, asof die bul plek gesoek het om te staan. Hulle sou baie versigtig moes wees.

By ’n pan het hulle tekens gekry dat hy tyd daar deurgebring het. Hy het gedrink, op ’n paar plekke in die modder rondgewoel met sy horings, weggeloop van die pan af, weer teruggekeer en getalm, en toe is hy weer vort. Dit het die jagters tyd laat wen, maar hulle het ook geweet hulle sou nou baie stadig moes beweeg en uiters versigtig wees. Die ou grote was waarskynlik nie ver nie. En toe – soos dit gaan – die onverwagte.

In ’n ruigte vlak voor hulle het ’n groot trop wildehonde uit die gras opgespring en weggehardloop. Sou dit ook die eland laat spaander het? Steeds was dit die spore wat die storie vertel het. Vorentoe het die eland se spoor – steeds ’n stapspoor – bo-oor die honde s’n gelê. Hy kon dus net enkele minute voor wees, maar sou hy hom dan glad nie gesteur het aan die honde se gevlug nie? Die jagspan het baie, baie stadig voortbeweeg, steeds noord op die spoor, die wind steeds in hul guns. Kon dit...

Skielik het die bul uit ’n digte masharrabos aan hul regterkant gebars en op ’n draf afgesit, weer noord. Onmiddellik was daar teleurstelling. Nou was dit sekerlik verby. Die ou bul het inderdaad skerp van rigting verander om oor sy spoor te waak! Vorentoe het egter ’n groot stuk oop grasveld gewag wat die eland sou moes kruis. Stephan het begin hardloop met die hoop om dalk daar ’n skoot in te kry.

Toe hy op die rand van die bos vassteek, het hy die eland sowat 80 treë uit op die oopte gewaar, op ’n stap. Kon dit wees dat die bul hulle nie ten volle gewaar het nie, dalk gedink het dis wildehonde? Die .340 Weatherby was dadelik in Stephan se skouer. En toe – amper te goed om waar te wees – steek die bul vas, draai om en kyk terug op sy spoor. Oor die lang geel gras was net sy kop en nek sigbaar. Die kruishaar het tot rus gekom op sy gorrel en met die bulder van die Weatherby het hy uit die Leupold se sigtonnel geval.

Later, na pad kap en swaar laai en ’n opgewonde geklikklak van die Boesmans (want eland is hul koningskos) draai Slinger na my en beduie met twee knoetsvingers na sy oë. “Daardie voëletjie...” sê hy

BEL ONS | CALL US

Tel: +27 12 485 9382

E-POS ONS | EMAIL US
KANTOOR | OFFICE

Privaatsak X202, Pretoria 0001

Xcelpark, h/v | c/o Lynnwood & Roderick

Lynnwood, 0081 

Mon - Vry/Fri: 08:00 - 16:30

SA SE VOORSTE JAGTYDSKRIF 
SA'S LEADING HUNTING MAGAZINE

Vir alles wat die jagter en omgewingsbewaarder wil weet.

Keeping the hunter and conservationist in the know.

KONTAK DIE REDAKTEUR
CONTACT THE EDITOR
  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • YouTube Social  Icon
  • Instagram Social Icon