EKSKLUSIEF VIR DIE WEB | 1 Augustus 2019 | Deur EMILE JONKER

'n Onvergeetlike ervaring

Hierdie is nou 'n jagverhaal wat ek in my lewe nooit sal vergeet nie.

Ons jaggroep van vyf, wat al vir die afgelope drie jaar saam jag, het vanjaar besluit om die koppe van Ohrigstad aan te durf. Ons het op 3 Julie die pad gevat uit die koue Vaaldriehoek. Na 'n rit van sewe ure waartydens ons heelwat moes stop vir koffie, want die uwe het die koffiefles vergeet, het ons die aand uiteindelike op die plaas Weltevrede aangekom. Ons warm verwelkoming daar het my weer laat besef hoekom aardse goed, soos 'n koffiefles, nie belangrik is nie. Die aand kon ons rustig uitpak en ontspan en voor aandete het Smit in sy gebed gevra dat ons skote "MOOI op die teikens val".

Sy gebede is sommer die volgende oggend al verhoor met die inskiet van die gewere en toe is die manne reg vir die bos. Met die intrapslag sien ek "my" koedoekudde wei, dit was duidelik dat ons op hierdie plaas 'n goeie jagervaring sou hê.

Nou kyk, ek skiet nie vir myself nie, maar op aanvraag van 'n vriend (wat my die "groot jagter" noem) en hy wou koedoevleis hê. Ek het so effens onder druk gevoel om aan dié titel gestand te doen.

Ons eerste dag in die veld was heerlik en suksesvol. Almal het geskiet wat hulle moes! Smit het sy blouwildebees MOOI geskiet en na 'n gespook met 'n 6m-lange teerpaal, harde woorde en min asem het die dier in die koelkamer gelê. Ek was uit met die pyl en boog, en nie lank nie of die eerste rooibokooi het by die blouwildebees aangesluit. Abrie en Ockert het ook MOOI skote gehad en hulle diere gekry. Ja, ons was almal gelukkig en tevrede.

Emile by sy koedoekoei wat hy op bestelling geskiet het.

Teen die tweede laaste dag het ek egter begin bekommerd raak oor my soeke na 'n koedoe, want as dit nie ’n kwêvoël is wat my verklap nie, is dit ’n groepie waterbokke (ek noem hulle die veld se speedcops) wat my voortdurend in stilte en met stadige bewegings dophou. Op dié dag het 'n troppie waterbokke weer vir my en Smit bekyk waar ons in die boogskuiling gesit het. Dit terwyl ek die verte ingestaar het op soek na enige bewegings wat myns insiens onnatuurlik is en dalk ’n sug van verligting sou bring. Dié boogskuiling is op die eerste dag al deur Lameck gebou. Kyk, ek het nog nooit 'n man gesien wat soos hy, met tou en boomtakke, 'n skuiling binne 'n uur kan bou nie.

Na 'n lang wag het ek na Smit gedraai om hom mee te deel dat die waterbokke nou besig is om my spoed te breek en met die omkyk gewaar ek ’n stel horings van koedoebul se kind! Hy was dalk nie groot nie, maar die feit dat hy so 1m agter Smit se kop gewei het aan die einste takke waaruit ons skuiling bestaan, was vir my mooi genoeg... en ook genoeg om my te laat begin bewe van opgewondenheid. Saam met die bul was ’n koei wat in die harwar van my reaksie besluit het om op 'n drafstappie van so 5m ver te gaan. Na drie dae het die boomskuiling se blare immers begin uitdroog, dus het enige beweging teen my getel.

Toe die eerste koei wegspring, het ek uit die hoek van my oog koei nommer twee gewaar. Dit was sý! Hierdie een was die koedoe wat ek vir die man moes skiet. Sy was in 'n ongelooflike goeie kondisie en enige jagter se droom. Maar toe is my probleem dat Smit reguit vir my gesit en kyk het. Glo my, 'n 80 pond-boog trek eweskielik sommer baie swaarder as normaal wanneer jy dit voor jou vriend moet span.

Gelukkig met sy 99% vertroue in my en 1% stress, kon ek die boog ten volle span en Smit het stadig afgesak. Die pyl het reguit gevlieg en die skoot was nie net MOOI nie, dit was perfek... "reg agter die knoppe" het ek vir hom gesê terwyl die koei die koppe inhardloop. Die blaf van 'n koedoekoei om vieruur die middag tussen Orighstad se koppe is mooi, maar wanneer jy hoor hoe dit al verder weg beweeg, dan kom die twyfel...

Na 15 minute se wag het ons begin stap. Smit, soos net hy kan, het die spoor gevat en intussen was die jagvoertuig ook op pad. Terwyl ek met die voertuig in verbinding was, het Smit die koei gesien, sy was swaar gewond en het neergesak. Toe ons die bakkie in die verte hoor aankom, het ons gekeer en gewys dat hulle te voet moet kom, want die twyfel het steeds aan my geknaag. Ons kamerade het by ons gestop en ons het in die rigting van die koedoe gestap. Sy het ongeveer 250m vanaf die skuiling neergeslaan.

Wat toe gevolg het, was 'n trotse fotosessie deur 'n dankbare jagter wat sy gebed opstuur: “Vader, soos ons in die aande bid, dank ek U vandag vir die voorreg wat ek gehad het om hierdie koedoekoei te kon jag, en dit met my boog. Dankie dat U ons veilig hou elke sekond op hierdie plaas, die eienaar sowel as sy gids. Ek vra u dat ons vyf manne volgende jaar weer so mooi voorreg mag geniet. Amen”

Die son het net-net begin sak toe hulle die koedoekoei vind.

BEL ONS | CALL US

Tel: +27 12 485 9382

E-POS ONS | EMAIL US
KANTOOR | OFFICE

Privaatsak X202, Pretoria 0001

Xcelpark, h/v | c/o Lynnwood & Roderick

Lynnwood, 0081 

Mon - Vry/Fri: 08:00 - 16:30

SA SE VOORSTE JAGTYDSKRIF 
SA'S LEADING HUNTING MAGAZINE

Vir alles wat die jagter en omgewingsbewaarder wil weet.

Keeping the hunter and conservationist in the know.

KONTAK DIE REDAKTEUR
CONTACT THE EDITOR
  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • YouTube Social  Icon
  • Instagram Social Icon