
SA JAGTER/HUNTER | Oktober 2015 | Deur JAAP STEENKAMP
E.jpg)
.458 Express – perfek vir Afrika
My eerste herinneringe aan prof. “Oom Koos” Badenhorst is van ’n groot en statige man wat Sondagmiddae met ’n blou BMW uit Pietersburg kom kuier het. Toentertyd het ek gedink hy kom kuier maar net vir my pa, maar ek het later besef dat hy waarskynlik vir universiteitsake Pretoria toe moes kom. Die feit dat hy ’n professor was, het hom nie meer of minder “Oom Koos” gemaak nie.
Hy en Pa kon ure lank om die eetkamertafel sit en kuier oor gewere, jag, kalibers en al die ander belangrike grootmensdinge. Hulle het, glo ek, hard gewerk in die oggende terwyl ons jongspan moes skoolgaan – vir ons kinders het dit egter gevoel of die grootmense heeldag gesit en kuier het.
Wat ek altyd met deernis sal onthou, is die hoeveelheid tyd en aandag wat Oom Koos aan ons kinders gegee het. Leerwerk het ek onder meer by hom geleer doen en die holster wat hy een Sondagaand “sommer gou-gou” vir my ma gemaak het, lê nou nog in my laai. Oom Koos het ons ook graag van sy versameling Rugers vertel en een keer in Pietersburg het ek aanhou neul totdat hy verplig was om sy kluissleutels te gaan haal om my ’n pak slae te spaar.
Die lewe het sy gang gegaan en byna 30 jaar later het ek op Gunsite se forums verneem dat ’n ene prof. Koos Badenhorst die meesterbrein agter die .458 Express is. Na vele herinneringe begin loskom het, het ek hom een aand geskakel. Ons het lekker gesels, een ding het tot die volgende gelei en die res van hierdie artikel is eintlik maar ’n samestelling uit die navorsingstukke wat ek op sy versoek verwerk het. Baie dankie, Oom Koos!
AAN DIE BEGIN
Die .458 Express se ontwikkeling kan direk gekoppel word aan die bestaan van en die jag vir die dikvellige en langgetande gediertes wat saam met ons die Afrika-kontinent bewoon. Van die vroegste tye af moes die mens voortdurend ’n beter plan beraam om die gevaarlike grootwild van Afrika te kon jag. Vir die jagter van ouds was dit immers ’n groot prestasie om sy mense van vleis van ’n olifant of buffel te voorsien.
Vanggate, boog en pyle, en selfs die ou vier-op-die-pond voorlaaiers het gekom en gegaan totdat rooklose kruit gedurende die laat 1800’s die opwagting gemaak het. Hierdie nuwe kruit het die mens in staat gestel om koeëls met kopermantels teen hoër snelhede te lanseer wat beter penetrasie en slaankrag tot gevolg gehad het.
Soos tyd verloop het, het jagters geleer dat kalibers met sekere minimum ballistieke vemoëns beter werk om gevaarlike Afrikawild mee aan te durf. Alhoewel die ou .303 en die 7x57 Mauser met sukses op olifante gebruik is, het jagters gou besef dat ’n .458-koeël van 450 tot 500gr wat teen ’n minimum snelheid van 2 150vps (655m/s) gelanseer word baie beter resultate lewer op ’n omgekrapte olifant of buffel. Swaarder koeëls teen ’n hoër spoed (byvoorbeeld die .460 Weatherby Magnum) is uiteraard beter, maar sulke kalibers skop erg en raak moeilik hanteerbaar vir die skut.
So gesê, so gedaan – met die kolonialisering van Afrika en die meegaande safari’s het die Britse en Duitse geweerbouers nie op hulle laat wag nie. Die een na die ander grootkaliber het die lig gesien en almal het sukses en welslae aan die jagter beloof. Talle kalibers het verskyn wat graag die spreekwoordelike kat se snor wou wees en tog het slegs enkeles die toetse van ons ongenaakbare Afrika deurstaan. (Op ’n tyd is selfs die .22 Savage Hi-Power as ’n leeukaliber aangeprys en menige jagter het met gekrenkte ego en/of verflenterde vel, of nog erger daarvan afgekom.)
Die eerste werklik suksesvolle grootwildkaliber was waarskynlik die .450 Cordite (ook bekend as die .450 Nitro Express) wat in 1898 deur Rigby vervaardig is. Hierdie oupa van die hedendaagse grootwildkalibers het ’n 480gr-koeël teen 2150vps geskiet en daarmee kon die jagters met geruster harte die ongediertes van Afrika en Indië aandurf. Die vervaardigers het selfs “tropiese ladings” gelaai (wat laer ladings kruit bevat het om rekening te hou met die hoër temperature van Indië en Afrika – in sulke hoë temperature kan die druk van patrone wat tot volle potensiaal gelaai is, gevaarlik hoog styg).
Soos wat die gebruik van rooklose kruit meer algemeen geraak het, het verbeterde kalibers die lig gesien, soos byvoorbeeld die .404 Jeffery, .416 Rigby, .425 Westley Richards en .470 Express. Nog later het die .458 Win Mag, .460 Weatherby en die .458 Lott op die toneel verskyn wat aan jagters ’n baie groot keuse gegee het.
AFRIKA-KOPSERE
Vir ons Suid-Afrikaanse situasie is daar egter ’n hele paar kinkels in die kabel wanneer dit by swaar- of grootkaliber-jaggewere kom. Die eerste kopseer is beskikbaarheid en kostes, want ammunisie vir hierdie ou grotes is nie geredelik beskikbaar nie en indien dit wel is, is dit nie noodwendig bekostigbaar nie. Dit is immers nie vir elkeen moontlik om tussen R1500 en R4000 (pryse wissel van handelaar tot handelaar) vir 20 patrone te betaal nie!
Grootkaliberskuts in Suid-Afrika is dus amper verplig om te herlaai en dit is net daar waar die tweede kopseer begin broei. Die beskikbare kruit van Somchem het nie dieselfde werkverrigting as die Amerikaanse en Europese kruitsoorte nie, met die gevolg dat Suid-Afrikaanse herlaaiers nie altyd die verskillende grootwildkalibers se volle potensiaal kan ontgin nie.
As voorbeeld: PMP-ammunisie vir die .458 Win Mag dryf ’n 475gr-monolitiese koeël teen 2067vps (630m/s) wat heelwat stadiger is as die verlangde 2150vps. Daarteenoor adverteer Hornady hul fabrieksammunisie met ’n 500gr DGS-koeël teen 2140vps (652m/s) – heelwat nader aan die aanvaarde minimum.
Die verkryging van die gewenste spoed van ten minste 2150vps uit herlaaide ammunisie veroorsaak vir Suid-Afrikaanse grootkaliberskuts ’n derde kopseer: Jagters moet met baie hoë kamerdrukke werk; dit plaas onnodige stremming op die geweeraksies en skep boonop die moontlikheid dat die slot kan vasslaan as gevolg van die hoë druk – dit terwyl ’n grootpoot storm.
Indien jy meer as 2150vps uit ’n 500gr-koeël in die .458 Lott probeer wring, sal dit drukvlakke kwaai laat styg. Probeer jy 2250vps haal (wat sommiges as ideaal beskou) moet jy 80 tot 81gr S321-kruit laai en dan is die druk maklik tot 12% bokant die voorgeskrewe maksimum.
S321-kruit is baie doeltreffend, maar dis ’n balkruit en daarom baie gevoelig vir kompaktering in die dop en warm buitetemperature. Indien ammunisie dus met S321-kruit gelaai word en boonop vir ’n oggend lank in die Afrika-son agter buffels aangedra is, is dit net vanselfsprekend dat die kamerdruk ernstige probleme
kan veroorsaak. Dit is geensins wenslik nie en daarom bied die .458 Express ’n ideale uitweg aan herlaaiers om met min moeite ’n effektiewer kaliber te gebruik.
Die een plaaslike kruitsoort wat minder gevoelig is vir hitte en kompaktering, is S335. In ons Afrika-toestande is dit dus sinvoller om S335 te gebruik, want daarmee is drukprobleme met warm ladings op warm dae iets van die verlede. Omdat dit egter ’n stafiekruit is, het dit ’n hoër volume as S321 en indien jy 2150vps wil behaal, kan jy eenvoudig net nie genoeg daarvan in die dop van ’n .458 Win Mag of .458 Lott gelaai kry nie.
Dis waarom .458 Win Magen .458 Lott-herlaaiers die stryd met S321 moet aanpak. Dit is ook waar die .458 Lott sy naam as bobaasskopper gekry het – ’n groot lading vinnig-brandende kruit veroorsaak dat die roer lekker geniepsig raak.
E%20-%20Copy.jpg)
VOORDELE VAN DIE .458 EXPRESS
Prof. Badenhorst het die saak ondersoek en tot die slotsom gekom dat ’n verlengde .458 Lott-dop die oplossing sou bied omdat daar dan plek vir ekstra S335-kruit sou wees sonder om die druk onnodig op te jaag.
Die .458 Lott se dop is 2.80” (71.1mm) lank en dit het ’n watervolume van 103gr. Daarteenoor is die Express-dop 2.99” (75.95mm) lank met ’n watervolume van 111gr. Dié verskil in dopvolume laat genoeg ruimte om hoër snelhede met S335 te bereik, terwyl kamerdruk – en die terugskop – betreklik laag bly. Ter illustrasie: Prof. Badenhorst het ’n proefneming gedoen by Bokmakierie, noord van die Soutpansberg. Hulle het ’n pak herlaaide .458 Express-patrone vir ’n uur in die son op ’n enjinkap laat staan en toe twee vyfskoot- stringe geskiet sonder die geringste tekens van té hoë kamerdruk. ’n Laaste sakie wat genoem kan word, is dat die .458 Express met S335-kruit volgens sommige mense tot 25% minder waarneembare terugskop het as die .458 Lott met S321.
DIE MENSE SÊ...
Nou kom die vrae: Wat sê die tabelle, en wat sê die mense? Uiteraard is daar verskillende opinies. In die tabel hieronder is die lesings en terugvoer wat prof. Badenhorst óf self getoets het, óf van vriende ontvang het. Die meeste daarvan is met ’n 24”-looplengte geskiet.
OMBOUINGS EN HERLAAIWERK
Daar is nog twee vrae wat aandag verdien: Waar kry ’n mens ’n geweer in .458 Express, en wat van ammunisie?
Die meeste gewere wat vandag in die .458 Express-kaliber bestaan, het die fabriek as ’n .458 Win Mag of .458 Lott verlaat. Dit is veral Brno 602’s of CZ 550’s wat met ’n maklike operasietjie omgebou is na .458 Express toe.
Die proses is verbasend maklik, want Clymer Manufacturing, ’n Amerikaanse herlaaiprodukvervaardiger het by geleentheid vir prof. Badenhorst ’n handgedrewe kamerruimer gemaak waarmee hy die kamer van sy .458 Lott in ’n japtrap kan oopsny sodat dit die.458 Express-patroon kan neem.
Dit werk soos volg: Die grendel moet uitgehaal word en die kamerruimer in plek daarvan in die kamer ingeskuif word. Dan draai ’n mens die slingertjie totdat die lemmetjies al die nodige metaal weggesny het, maak die loop skoon en gaan skietbaan toe. So maklik soos dit!
Dis ’n heeltemal veilige proses aangesien die agterkant van die kamerruimer ’n verdikking het wat presies in die beltspasie van die .458-dop inskuif en sodoende verhoed dat snywerk óf skeef óf te diep geskied. Dit is teoreties iets wat enige handige persoon tuis kan doen, maar aangesien die kamer van die geweer en dus per definisie die kaliber van die geweer verander word, is dit onwettig en mag sulke werk volgens die Suid-Afrikaanse wet slegs deur ’n gekwalifiseerde geweersmid gedoen word. Dis in elk geval raadsamer om enige werk aan ’n geweer deur ’n bekwame geweersmid te laat doen.
Die bekende Ruger No 1 gewere met hul elegante valblokaksies is ook gewild vir ombouings na .458 Express toe. Die proses is in hierdie geval omslagtiger aangesien die loop uit die aksie verwyder moet word voor enige snywerk aan die kamer gedoen kan word.
TEN SLOTTE
’n Paar laaste notas: Die .458 Express is ’n grootkaliber uit Afrika en vir Afrika, gebore uit die nood van ons omstandighede. Gegewe die ruwe omstandighede wat soms in die jagterrein kan voorkom, is hierdie kaliber dalk die ideale oplossing om baie bekommernisse vroegtydig uit die weg te ruim.
In ’n noodgeval kan .458 Win Mag- en .458 Lott-ammunisie ook in die geweer geskiet word, maar dit is nie aan te beveel nie – dit sal die groewe voor die kamer vinniger laat slyt.
Vreemd genoeg is hierdie kaliber ook heel geskik vir vlaktejag tot op 300m. Met 300gr Impala-koeëls, of 350gr Spartan- of Barnes X-koeëls het prof. Badenhorst meer as net een blouwildebees huis toe geneem.
Die trajek van ’n 300gr Impala-koeël uit die .458 Express is verbasend plat. Met die trefpunt 2.02” hoog op 100m, zero dit op 200m en is dit 8.5” laag op 300m – vergelyk dit gerus maar met enige van die .30”-kalibers. Praat nou van ’n veelsydige kaliber – die .458 Express kwalifiseer beslis!
E%20-%20Copy%20-%20Copy.jpg)